SOLIDARITEIT 01 Feb 2012 Bladsy 53

Deur dr. Danie Brink
Hoe meer ‘n mens van die doen en late van Solidariteit Helpende Hand te wete kom, hoe meer besef jy dat dit waarmee ons besig is, van onskatbare waarde is en Christene se hunkering aanspreek om getrou te wees aan die Bybelse opdrag om na weduwees, kinders en armes om te sien.

Om by die werk van Helpende Hand betrokke te wees, is baie vervullend. Solidariteit Helpende Hand is ‘n organisasie sonder winsoogmerk wat poog om Afrikaners se armoede te verlig en om die armoedesiklus permanent en op ‘n volhoubare wyse te verbreek en te voorkom.

Hierdie edele taak word aangepak deur 42 voltydse werknemers, 118 landwye takke en duisende vrywilligers. Een van Helpende Hand se beste meetbare uitsette is die toeken van studiebeurse en lenings deur ons Afrikaanse Beursinstituut. Deur ‘n beurs of ‘n studielening aan ‘n behoeftige beurshouer toe te ken, word die persoon in staat gestel om opleiding te ontvang en ekonomies onafhanklik te word.

Daarom is die uitbreiding van beurstoekennings (wat tans op 64 verskillende beurse staan) ons hooffokus vir 2012. Dit bly ‘n uitdaging om in 2012 nuut en kreatief te dink oor die resultate wat deur gevestigde staatmakers soos Helpende Hand se Kosblikkie- en Skooltassieprojek gelewer word.

Juis daarom wil ons vanjaar die kosblikkie aan kleuters met meer as net kos vul. Ons lei kleuterskoolassistente op en verskaf broodnodige leiding aan behoeftige ouers. Ons Skooltassieprojek bly een van ons belangrikste nasionale projekte en ons stel daarmee saam ons ouerhulpprogram bekend wat ouers help om hulle kinders skoolgereed te kry en in die vroeë grade met huiswerk te help.

Tydens die Eerste Ekonomiese Volkskongres in Kimberley in 1939 was Afrikaners arm en oënskynlik hulpeloos — heel moontlik in ‘n selfs benarder situasie as in 2012. Die planne wat by hierdie kongres en deur verskeie komitees voortspruitende uit die kongres gemaak is en die suksesse wat daaruit voortgevloei het, bly ‘n inspirerende verhaal.

Die verhaal word vertel in ‘n FAK-boek van 1964 met die gepaste titel Volk staan op. Dit is vir ons as Helpende Hand, gestig in 1949, baie opwindend om in hierdie dae betrokke te wees by planne, projekte en aktiwiteite wat met reg die inhoud van ‘n nuwe boek kan verskaf — ‘n Volk staan weer op.