RAPPORT 05 Feb 2012 Bladsy 4

Deur MARLENE MALAN IN KAAPSTAD mmalan©rapport.co.za

‘n “Vegplan” van miljoene rande vir Afrikaans is eergister deur die beweging Solidariteit aangekondig. Dit kom in reaksie op die jongste weergawe van die Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale wat staatsdepartemente verplig om minstens drie amptelike tale te gebruik, waarvan twee inheems moet wees – Afrikaans uitgesluit.

So lyk Solidariteit se vegplan vir Afrikaans:

Regsweë: Solidariteit gaan die grondwetlikheid van die voorgestelde wetsontwerp in die hof toets, sou dit as wet aanvaar word.

Die behoud van Afrikaanse skole: Solidariteit se burgerregteinisiatief, AfriForum, het reeds met ‘n veldtog begin teen pogings om Afrikaans uit skole te verdring.

Beurse aan Afrikaanse studente: Solidariteit Helpende Hand gaan vanjaar meer as R7 miljoen aan Afrikaanse jongmense toeken – binne tien jaar R3o miljoen jaarliks.

Afrikaans as wetenskap- en onderrigtaal: ‘n Kampus waar Afrikaanse opleidingsinstellings gehuisves gaan word, word teen R150 miljoen gebou.

Afrikaans terug in die hoofstroom-ekonomie: Dit word as ‘n begin gedoen deur die korttermynversekeraar VirSeker.

Afrikaans in die gedrukte media: ‘n Eie uitgewery, Kraal-uitgewers, word bedryf.

Afrikaans op die internet: Dit word gedoen deur Maroela Media, ‘n internetkuierplek.

Afrikaans in die werkplek: Veldtogte soos die waar Afrikaanse eksamenvraestelle vir finansiele adviseurs beskikbaar gestel word.