Die personeel van die hele Solidariteit Beweging het op Vrydag 22 Junie 2012 die Beweging se 110de verjaardag by Hoërskool Hercules gaan vier deur opknappingswerk by die skool te gaan doen. Daar is meer as 57 Doen Goed-projekte by die skool aangepak! Hier is ʼn paar foto’s:
Agtergrond van Hoërskool Hercules:
Hoërskool Hercules is ʼn voormalige Model C-skool en kwalifiseer daarom nie vir die maksimum subsidie van die regering soos wat behoeftige skole in ander gemeenskappe wel ontvang nie. Die R500 per kind per jaar wat deur die staat gesubsidieer word, dek nie eens die skool se elektrisiteitsrekening nie.
Die skool se handboeke word ook nie deur die regering gesubsidieer nie omdat die skool “akademies te goed presteer.”
Feitelys:
- Ongeveer 2 uit 3 leerlinge (dit wil sê 292 uit 486 leerlinge) se ouers betaal glad nie skoolfonds nie. Die skoolgeld moet dus deur die skool gesubsidieer word.
- Ten spyte van die groot aantal behoeftige leerlinge in die skool handhaaf die skool al die afgelope 10 jaar ʼn slaagsyfer van tussen 90% en 100%.
- Hoërskool Hercules is verreweg die kleinste Afrikaanse hoërskool in Pretoria.
- Hoërskool Hercules is waarskynlik die behoeftigste Afrikaanse hoërskool in Pretoria.
- Hoërskool Hercules het die oudste skoolgebou in die weste van Pretoria. Stigtingsdatum: 15 Oktober 1941 (dus 71 jaar oud)
- Een van die faktore wat die skool finansieel ongelooflik knou is ʼn water en elektrisiteitsrekening wat maandeliks tussen R25 000 en R35 000 beloop.
- Dit het onder die skool se aandag se aandag gekom dat verskeie leerlinge voedselgebrek lei.
- Ongeveer 30 leerlinge kry broodjies gedurende pouses. Baie van hulle is te skaam om die broodjies te kom eet.
- Ongeveer 120 gesinne in die skool het ʼn gesamentlike inkomste van
- R1 040 of minder per maand elk.
- Ongeveer 40 gesinne het geen inkomste nie, net ʼn staatsubsidie.
- ʼn Beduidende aantal gesinne woon in Wendy-huise, motorhuise en selfs tente. Dit is baie moeilik om die presiese getal te bepaal, aangesien die gesinne skaam is oor hul omstandighede en dit probeer wegsteek.
- Baie van die ouers van leerlinge is enkelouers.
- ʼn Aantal leerlinge bly by oupas en oumas.
- Baie leerlinge stap skool toe omdat hul ouers nie busgeld kan bekostig of ʼn private motor het nie.