Deur Juanita du Preez
Die woordeboekdefinisie van armoede is: ’n toestand waarin ’n persoon sonder geld en sonder die vernaamste lewensbehoeftes is.
Ongelukkig verskaf ’n woordeboek nie raad oor hoe armoede uitgewis kan word nie. Op 17 Oktober word Internasionale Dag vir die Uitwissing van Armoede oor die wêreld heen gevier. Die doel van hierdie dag is om bewusmaking oor die belangrikheid daarvan om armoede uit te roei, te skep. In Suid-Afrika moet die amptelike resultate om armoede in ons land uit te wis, eerder betreur word. Die land se getal werkloses staan volgens Statistieke SA op 4,47 miljoen mense.
Volgens die Suid-Afrikaanse Kamer van Handel en Nywerheid (SAKHN) is hierdie vlakke steeds heeltemal te hoog vir volhoubare ontwikkeling. Dié organisasie het sy kommer uitgespreek dat byna elke tweede Suid-Afrikaanse volwassene werkloos is
Hoewel die regering wel gereeld planne en liggame, soos die Nasionale Strategie teen Armoede van 2006, ’n Nasionale Raad op Armoede en die “Oorlog teen armoede”-veldtog van 2008, vir armoedebestryding voorstel en aankondig, sit miljoene mense steeds sonder werk.
Miljoene mense ontvang egter die een of ander maatskaplike toelaag. Die regering sê dat maatskaplike toelaes op geen manier gebruik moet word om die wanbalanse in gemeenskappe te oorkom nie, maar tog ontvang miljoene mense in Suid-Afrika sulke toelaes. Die Wes-Kaapse Kamer van Handel en Nywerheid het in 2011gesê dat Suid-Afrika die enigste land ter wêreld is wat meer welsyntjeks as salaristjeks uitskryf.
Volgens die regeringsagentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) het 16 042 764 mense teen einde Augustus 2012 ’n maatskaplike toelaag ontvang. Van die 335 036 aansoeke wat tydens die eerste kwartaal van die 2012–2013-boekjaar ontvang is, is net 18 516 aansoeke afgekeur.
“Met statistiek soos hierdie in gedagte is dit vreemd om te hoor dat Bathabile Dlamini, die minister van maatskaplike ontwikkeling, glo onderwys en opleiding kan ’n belangrike rol in die stryd teen armoede speel,” sê dr. Danie Brink, die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. “Adjunkpresident Kgalema Motlanthe glo dat Suid-Afrika armoede binne 20 jaar kan uitroei, maar die statistiek vertel ’n ander storie.”
“Helpende Hand glo werklik dat opheffing-deur-opleiding die antwoord is om armoede volhoubaar uit te roei,” sê hy. “Die skep van ’n welsynstaat bied nie ’n langtermynoplossing vir armoede nie.”
Die organisasie se nasionale opheffingsprojekte is daarop gemik om opleiding te bevorder. Deur die Kosblikkieprojek word kleuters toegerus om hulle skoolloopbaan slaggereed en skoolryp te begin. Die Skooltassieprojek verskaf skooltassies, skryfbehoeftes en professionele leiding aan behoeftige graadeens. Leerders word deur middel van beroepsleiding en -voorligting bygestaan om weldeurdagte en ingeligte besluite oor hul toekoms te maak. Jongmense word ’n kans op ’n ekonomies onafhanklike toekoms gegun deur die toekenning van rentevrye studiebeurse. Werksoekers word die geleentheid gebied om suksesvol werk te soek en te kry.
“Die regering is welkom om by Helpende Hand te kom kers opsteek oor hoe om armoede suksesvol uit te roei deur opleiding te bevorder,” sê dr. Brink.
“Selfs Kuben Naidoo, die direkteur-generaal van die Nasionale Beplanningskommissie, meen dat die regering te min opsies het om werkloosheid onder die jeug teen te werk. Hy meen die regering het nog nie daarin geslaag om ’n burokrasie wat die vermoë het om die nodige oplossings te implementeer, te skep nie. Hy meen ook dat Suid-Afrika nog nie die kwaliteit van onderwys merkbaar verbeter het nie.”
Volgens die Wêreld Ekonomiese Forum is die kwaliteit van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel 133ste uit 142 lande in die wêreld.
Kofi Annan, die voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, het reeds in 2006 gesê die veldtog om armoede uit te roei, kan nie net die taak van ’n klein groepie bly nie, maar moet die roeping van die meerderheid word. Helpende Hand ondersteun hierdie stelling en doen ’n beroep op die regering om werkbare oplossings teen armoede in te stel waarby elke behoeftige persoon in Suid-Afrika kan baat.
“Ons hoop om die regering teen 17 Oktober 2013 te kan gelukwens met die welslae wat bereik is om armoede uit te wis,” sê dr. Brink. “Intussen sal ons voortgaan om ons suksesvolle beleid van opheffing-deur-opleiding as ’n teenvoeter vir armoede uit te brei.”