EASTERN TIMES 1 November 2012 Bladsy 2

Solidariteit Helpende Hand se nuutgestigte Erasmuskloof-tak is onlangs aan die sakegemeenskap in die omgewing bekendgestel. Sowat 50 uitgesoekte gaste het die geleentheid bygewoon. Die gaste het meer te wete gekom oor Helpende Hand se beleid van opheffing deur opleiding as ʼn manier om armoede die hok te slaan.

Karin Roos, die takvoorsitter, het daarna uitgebrei oor die projekte waarmee die tak reeds besig is soos die Skooltassieprojek waardeur die behoeftige Gr. 1-leerders van vier laerskole skooltassies sal ontvang en die New Days-projek waardeur ʼn huis van veiligheid binne en buite opgeknap sal word.

“Ons is baie dankbaar vir die onverwagse belofte van meer as 60 tassies wat reeds deur die sake-netwerk gemaak is,” sê Karin. “Ons is verbly dat die gemeenskap so bereidwillig is om by die goeie werk van Helpende Hand betrokke te raak.”

Die geleentheid is by die D’cadence Restaurant in die Castle Walk sentrum aangebied. Die tak is besonder dankbaar vir die restaurant se betrokkenheid. Die aand is deur die restaurant geborg. D’cadence sal ook binnekort ʼn gholfdag aanbied om fondse in te samel vir die Skooltassieprojek.

Enigeen wat by die Erasmuskloof-tak betrokke wil raak kan Karin Roos kontak by 083 6533 461.