Solidariteit Helpende Hand se Nasionale Kosblikkieprojek het sopas weer afgeskop! Die projek het in die laaste drie jaar gegroei tot ʼn omvattende antwoord vir die holistiese ontwikkeling van behoeftige kleuters in Suid-Afrika. Die ontwikkelingsuitdagings in vroeë kinderontwikkeling word voorkomend aangespreek deur ondersteuning te bied ten opsigte van kleuters se voeding, die indiensopleiding van versorgers by kleuterskole, ouerleiding, maatskaplike ondersteuning en die beskikbaarstelling van opvoedkundige materiaal.
Die projek het in die verlede groepe ma’s opgelei as dagmoeders in Gauteng en die Vrystaat en 15 behoeftige kleuterskole reg oor Suid-Afrika het gebaat by Helpende Hand se voedingskemas.
In 2012 word die voedingskemas uitgebrei na 40 kleuterskole in al die provinsies en die indiensopleiding en ouerleiding word in samewerking met Hettie Brittz en haar span Immergroen Ouerskap-fasiliteerders aangebied. “Waar ons in 2011 45 ma’s opgelei het, kan ons hierdie jaar nagenoeg 2 000 ouers en versorgers regoor Suid-Afrika bereik,” sê Lindie Strydom, projekorganiseerder van Helpende Hand.
Elke skool ontvang ʼn krat met materiaal vir kuns en handwerk, opvoedkundige- en fantasie spel, konstruksie bou- en lewensvaardighede, wiskundige vermoëns, legkaarte en Afrikaanse leesboekies. Immergroen opvoedkundige materiaal in die vorm van temperament- en gedragplakkate, dissiplineprodukte, CD’s en DVD’s word ook aan die skool geskenk.
Helpende Hand het reeds aansoeke ontvang van skole in Gauteng, Limpopo, Noordwes, Vrystaat en Mpumalanga. Die skole moet aan basiese kriteria voldoen om in aanmerking te kom vir die projek. Hierdie kriteria is op Helpende Hand se webblad beskikbaar by www.helpendehand.co.za.
“Behoeftige kleuters ervaar baie keer ʼn agterstand op maatskaplike-, sosiale en sielkundige vlak vanweë sy/haar agtergrond. Ons kan nie toelaat dat kleuters op skolastiese vlak ook met ʼn agterstand graadeen begin nie,” sê Helpende Hand se maatskaplike werker, Marita Enslin, oor die basiese kriteria waaraan voldoen moet word. “Ons wil graag skole ondersteun wat ʼn veilige omgewing bied en wat se standaard so is dat kleuters uiteindelik skoolgereed en skoolryp sal wees.”
Die NEA Speelgroepie in Danville
Helpende Hand het in April die afskop van die Kosblikkieprojek gevier saam met die NEA Speelgroepie in Danville. Die groep van 50 kleuters is deur twee maatskaplike werkers in Danville begin na ʼn behoefte aan veilige- en konstruktiewe kleuterversorging geïdentifiseer is. Die groepie het drie ywerige juffrouens en drie assistente wat as vrywilligers werk om die groep 2 – 6 jariges vier keer per week op die gronde van Laerskool Generaal Beyers te versorg. Die groepie is totaal en al afhanklik van skenkings om hierdie diens aan die gemeenskap te kan bied. Kleuters ontvang drie etes by die skool wat nou ʼn broodnodige hupstoot deur Helpende Hand se voedingskema sal ontvang. Helpende Hand se Wilgers-tak staan pa vir die bestuur van fondse.
Immergroen Ouerskap se opleiding fasiliteerders het saam kom kuier om die personeel van nader te leer ken en Ingrid Harper, koördineerder van Immergroen Ouerskap, kon nie uitgepraat raak oor hulle span se opgewondenheid om weg te spring met die opleiding nie. “Ons sien uit na elke speelgroepie en kleuterskool wat sy deure oopmaak vir ons en ons is dankbaar vir elke hart wat ons kan aanraak,” het sy na afloop van die geleentheid gesê.
Vir meer besonderhede oor die projek, besoek gerus Helpende Hand se webblad by www.helpendehand.co.za.
Die projek kan ondersteun word deur ʼn R50 kosblikkie te skenk propvol gepak met:
1. Voeding
2. Ouerleiding
3. Indiensopleiding
4. Opvoedkundige materiaal.
5. Maatskaplike ondersteuning