Mediaverklaring
Solidariteit Helpende Hand
2 November 2012
Solidariteit Helpende Hand vier Nasionale Kinderdag met afskop van Skooltassieprojek vir 2013
Solidariteit Helpende Hand vier op 3 November Nasionale Kinderdag deur die nasionale Skooltassieprojek vir 2013 af te skop. Die Skooltassieprojek sit ’n tassie gevul met al die nodige skryfbehoeftes in ’n graadeentjie se hand en gee hom daarmee hoop en moontlikhede.
“Helpende Hand volg ’n beleid van opheffing deur opleiding,” sê dr. Danie Brink, die uitvoerende hoof van Helpende Hand. “Ons glo dat ’n kind se voorbereiding om ’n suksesvolle en ekonomies onafhanklike lid van die samelewing te word, reeds voorskools begin.”
Helpende Hand se nasionale Kosblikkieprojek het vanjaar deur ’n voedingskema en kratte opvoedkundige speelgoed bygedra om bykans 3 200 behoeftige kleuters se lewens te verbeter. Daarby het nagenoeg 2 000 kinderversorgers gebaat by indiensopleiding wat as deel van die Kosblikkieprojek aangebied is.
Die nasionale Skooltassieprojek is die volgende stap om ’n kind ’n beter toekoms te gee. Helpende Hand beoog om in 2013 ’n totaal van 5 000 tassies aan behoeftige Afrikaanssprekende graadeens te gee.
“’n Goeie opvoeding is die beste manier om ons kinders voor te berei vir die wêreld van werk en daarom is dit belangrik om aan hulle die nodige toerusting en ondersteuning te gee,” sê dr. Brink. “Op Nasionale Kinderdag vier ons die toekoms van ons kinders met nog ’n ‘doen’-projek wat op opleiding fokus.”
Mediaskakelbeampte:
Juanita du Preez
Solidariteit Helpende Hand
Tel: 012 644 4390
Sel: 074 500 3915
E-pos: juanita@helpendehand.co.za