Die Solidariteit Helpende Hand in die Wes-Kaap het tydens die 110 Doen Goed projekte veldtog ses behoeftige kinders bederf met ʼn uitstappie na die Two Oceans Akwarium.
Helpende Hand het mense regoor die land genooi om in Junie deel te neem aan die veldtog en sodoende in die ritme van goed doen te kom. Die reaksie was oorweldigend en 190 projekte is teen die einde van die tydperk geregistreer.
Die streekkantoor se borge het die ses kinders uitgerus met ʼn nuwe uitrusting, van kop tot tone. Hulle is ook bederf met ʼn koelsakkie vol lekkernye.
Die Tygerburger het koopbewyse vir middagete by ʼn restaurant geskenk.
“Die kinders was baie opgewonde en dankbaar,” sê Wilinda Ford, van die Wes-Kaap streekkantoor. “Ek sal nooit vergeet hoe die driejarige Cobus hom aan die krappe verwonder het nie. Hy het vir my gesê hulle ‘pwaat’ met mekaar.”
Tydens die ete het Erika Botha-Rossouw, Helpende Hand se Wes-Kaapse streeksorganiseerder, by die groep aangesluit. Die kinders het haar gedruk en bedank vir die lekker dag.
Belangstellendes wat nie tussen 18 en 22 Junie aan projekte deelgeneem het nie, kan steeds R10 bydra tot Helpende Hand se verskeidenheid nasionale projekte deur die woord ‘HELP’ te sms aan 38657.
Onderskrif vir foto’s:
ʼn Groep behoeftige kinders bewonder die seelewe tydens ʼn uitstappie na die Two Oceans Akwarium.