BEELD (Noord Wes) 25 Julie 2012 Bladsy 4
Iemand wat ‘n verskil wil maak. Dit is SW Calitz, Solidariteit Helpende Hand se streekorganiseerder vir ‘n gedeelte van Noordwes en Noord-Kaap. “Ek wil regtig ‘n verskil maak in die gemeenskap en mense help deur die beleid van opheffing deur opleiding,” verduidelik hy sy betrokkenheid by dié organisasie.
Dit is juis die geleentheid om ‘n verskil te kan maak wat hom betrokke hou. Dit is vir hom heerlik om met mense te werk en na die verskillende takke van die organisasie te kan reis. Die rondryery hou hom egter weg van sy huis en hy hou niks daarvan om sy vrou en honde alleen te laat nie. Met 12 takke in sy streek — Klerksdorp, Potchefstroom, Potchefstroom-vroue, Stilfontein, Bothaville, Vrystaat, Ottosdal, Sasolburg-vroue, Lichtenburg, Carletonville, Upington, Sannieshof en Vryburg – is by baie op die pad.
Die beursprojek lê hom baie na aan die hart en verskeie beurse is al gestig. “By Helpende Hand glo ons die stryd teen armoede is ‘n stryd vir goeie opleiding. Opheffing deur opleiding is ons antwoord en beurse is die praktiese toepassing hiervan.” Hy was aanvanklik ‘n uitbelagent vir Helpende Hand en het in die dienssentrum gewerk. Dis die mense wat ondersteuners vir Helpende Hand werf en hulle aanmoedig om aan te sluit. Hy is ‘n raps meer as ‘n jaar gelede getroud waarna hy en sy vrou in Klerksdorp kom bly het. Die twee het nie kinders nie, maar het wel twee hondekinders.