MOOT REKORD 16 August 2012

Langtermynopheffingsprojekte is die enigste oplossing om armoede te verlig meen die takvoorsitter van Solidariteit Helpende Hand se Silverton-tak. Daar is geen kitsmiddels om armoede te verlig nie, maar langtermynopheffingsprojekte is moontlik die doeltreffendste.

Dit is die siening van Jorrie Jordaan, voorsitter van Solidariteit Helpende Hand se Silverton-tak. Dié tak is oorspronklik gestig om onmiddellike armoedeverligting aan inwoners te verskaf, maar het met tyd besef dat langtermynprojekte beter sou werk. Dus is dit een van die redes hoekom die Silverton Beursfonds gestig is.

Die beursfonds beoog om Afrikaanse studente die geleentheid te gee om verder te gaan studeer en so ’n ekonomiese onafhanklike lid van die gemeenskap te word.
Hoewel die Silverton-tak steeds aandag skenk aan noodverligting in Silverton, East Lynne, Jan Niemandpark, Derdepoort, Kameeldrif-Wes en selfs so ver as Rooiwal, Petronella en Grootvlei, het die klem ook van huishoudings na kinders verskuif.

’n Sopkombuis in Derdepoort waar 33 gesinne in beperkte ruimte woon is vroeër vanjaar omskep in ’n fasiliteit waar ontbyt elke oggend aan 25 skoolgaande kinders bedien word. Die tak is ook deel van Hoërskool FH Odendaal in East Lynne se voedingskema waar 45 kinders een keer per week toebroodjies kry.

“Ons skakel nie hulp aan huishoudings uit nie, maar ons skaal af deur minder gereeld uit te deel en ook deur hulp meer selektief toe te pas,” het Jordaan gesê. Hy het gesê die tak volg ’n beleid van opleiding as oplossing.

Alhoewel dié tak reeds ’n groot gedeelte van hul eie geld in die beursfonds gestort het, wil hulle dit graag versterk deur middel van ’n gholfdag op 11 September. Alle geld wat tydens die gholfdag gemaak word gaan direk in die beursfonds om vermeende studente aan ’n blink toekoms te help bou.

Navrae: Allen Lourens by 082-784-3449.