RAPPORT WEEKLIKS 21 Oktober 2012 Bladsy 4

Danie Brink

In sy artikel oor armblankes in verlede week se Rapport Weekliks skryf Edward-John Bottomley oor die geskiedenis van wit armoede in Suid-Afrika, maar ongelukkig se hy nie hoe ons armoede moet takel nie.

Terloops, die een standpunt waarmee ek heelhartig met Bot­tomley saamstem, is dat arm Wit­tes, en dan meer spesifiek arm Afrikaners, geen spesiale behandeling verdien nie. Arm Afrika­ners verdien nie meer hulp as ander arm Suid-Afrikaners nie, maar hulle verdien ook beslis nie minder hulp as ander arm Suid- Afrikaners nie.

Ongelukkig is daar in die praktyk van welsyn en opheffing deur die regering talle voorbeelde van hulp wat arm Afrikaners nie beskore is nie. Ons by Solidariteit Helpende Hand verskil nie net met die regering se rasgedrewe inwerkingstelling van staatshulp aan armes nie, maar ons verskil ook radikaal oor die aard van hierdie hulp.

In teenstelling met die ekonomies-destruktiewe praktyk van gratis uitgifte aan meer as 16 miljoen Suid-Afrikaners glo ons daarin om mense te help om hulself te help. Ons glo dat die mees effektiewe “visstok” wat jy aan ‘n behoeftige persoon kan gee dié van goeie onderwys en opleiding is. Daarom kanaliseer ons al ons energie, vermoëns en kapasiteit in die rigting van die finansiering van alle vorme van onderwys en opleiding.