Uitnodiging aan die media

Solidariteit Helpende Hand

14 September 2012

Solidariteit Helpende Hand se Kosblikkieprojek skep beter toekoms vir volwassenes – Afsluiting van nasionale Kosblikkieprojek

Solidariteit Helpende Hand se nasionale Kosblikkieprojek het vanjaar deur middel van ’n voedingskema en kratte vol opvoedkundige speelgoed bygedra om ongeveer 3 200 behoeftige kleuters se lewens te verbeter. Nagenoeg 2 000 ouers en kleuterskoolpersoneel het ook voordeel getrek uit indiensopleiding wat fasiliteerders van Immergroen Ouerskap aangebied het.Die media word genooi na die amptelike afsluiting van die Kosblikkieprojek waartydens sertifikate aan van die ouers en kleuterskoolpersoneel wat aan die projek deelgeneem het, oorhandig gaan word.

Die opleiding was van besondere waarde vir die personeel van die 40 kleuterskole landwyd wat aan die projek deelgeneem het. Volgens Marie Visagie, hoof van Pinocchio Kleuterskool, was dit ’n “fantastiese geleentheid” en die personeel was “baie opgewonde” oor die opleiding. “Elkeen van hulle smag om opleiding te ontvang,” het sy gesê.

Die personeel by die betrokke kleuterskole kan nie bekostig om self vir opleiding te betaal nie omdat hulle soms so min as R1 500 per maand verdien, in houthuisies bly en in baie gevalle die broodwinners van hul gesinne is. ’n Gebrek aan fondse skep moeilike omstandighede vir die skole om in te funksioneer. Skoolgelde is laag om vir die behoeftige gesinne voorsiening te maak, maar sommige ouers kan hierdie bedrae net gedeeltelik of selfs glad nie betaal nie.

Helpende Hand volg ’n beleid van opheffing-deur-opleiding as ’n volhoubare en langtermynoplossing vir armoede.

Die media word genooi om die geleentheid by te woon:

Datum:           Dinsdag 18 September

Tyd:                13:00 tot 14:00

Plek:               Booysens Beertjies Kleuterskool, Booysens

Adres:            H.v. Attie- en Wilhelmstraat, Booysens, Pretoria-Wes

RSVP:             Maandag 17 September by Juanita du Preez – 074 500 3915 of juanita@helpendehand.co.za