Deur Marianthie van der Walt – Limpopo-streeksorganiseerder

Vaalwater is ’n bitter klein dorpie tussen Lephalale en Modimolle en word omring deur asemrowende natuurskoon, wat wild- en jagplase, asook bees- en saaiboerdery insluit. Hierdie klein bosvelddorpie is die tuiste van groot rykdom, maar het ook met groot armoede in sy midde te kampe. Die dorp se mense se vermoë om saam te staan, is wat jou regtig raak.

Retha van der Merwe het bietjie meer as twee jaar gelede, te midde van ’n tragedie in haar eie lewe, besluit om ’n Helpende Hand-tak in Vaalwater te stig met die doel om die gemeenskap selfs sterker saam te trek en behoeftes sover as moontlik te takel.

Binne twee jaar het die tak van krag tot krag gegaan en dit is aangrypend om te sien hoe al die leraars van die dorp hul bes probeer om elke vergadering by te woon, hoe die maatskaplike werker van die buurdorp getrou vergaderings bywoon, hoe die skole verteenwoordig word, hoe die VLU-dames met bykans elke fondsinsameling aantree en hoe daar soveel spesiale mense is wat hul kennis, vaardighede, en HANDE kom aanbied vir die gesamentlike doel van die tak. Vaalwater- tak se netwerk is ʼn sterk ketting, met stabiele skakels wat mekaar aanvul.

Met sulke sterk netwerke in die gemeenskap wat maatskaplike en barmhartigheidsdiens gesamentlik kan aanpak, kon die tak hom hierdie jaar met gerustheid by opheffing deur opleiding begin bepaal.

Helpende Hand Vaalwater was die eerste tak in die land wat hul 15 lede as deel van die takbefondsingplan gewerf het. Die tak stig ook in Augustus hul beursfonds vir die gemeenskap en verskeie Borg-’n-Kind-projekte is in die pyplyn. ʼn Verdere diens wat die tak ook aan die gemeenskap lewer, is om op ʼn gereelde basis ʼn kundige of motiveringspreker te kry om die gemeenskap oor relevante kwessies te kom toespreek.  Twee van ons gunstelinge was praatjies oor trauma en depressie en ook meer onlangs hoe om jou kind van kleins af op die regte manier geslagsvoorligting te gee.

Die Helpende Hand-span van Vaalwater is nie net besig om ’n merkwaardige verskil in die lewens van behoeftiges in hul dorp te maak nie, hulle takel ook die sosiale behoeftes van hul gemeenskap en vul op hierdie manier ʼn sterk gemeenskap nog verder aan. Dit is ʼn inspirasie om hierdie groepie mense dop te hou en om te deel in hul sukses en kameraderie. Ek kan nie wag om te sien wat die toekoms vir hulle inhou nie!

Om betrokke te raak by ’n tak of projekte in Limpopo skakel Marianthie van der Walt by 082 741 7858 of stuur ʼn e-pos aan marianthie@helpendehand.co.za.