BEELD 04 May 2012 Bladsy 26
Solidariteit Helpende Hand moedig werkplekke landwyd aan om op 25 Mei hul deure oop te maak vir hoerskoolleerlinge om ‘n dag daar deur te bring. Deur die Neem-’n-kind-werktoe-veldtog wil die organisasie leerlinge help om meer van ‘n beroep te leer. Sodoende kan hulle meer helderheid kry oor beroepe en beter voorbereid wees op wat vir hulle in die werkplek wag.
“Helpende Hand het ‘n beleid van opheffing deur opleiding, wat ‘n langtermynoplossing vir die armoedeprobleem bied,” se dr. Danie Brink, hoof van Solidariteit Helpende Hand. “Ons beroepsleiding-diens lei jongmense om die vakke te kies wat hulle in staat sal stel om goeie beroepe te he en finansieel onafhanklik te wees.”
Die veldtog span ook skaduwerk in sodat leerlinge werklik kan sien hoe ‘n tipiese werkdag in ‘n bepaalde beroep verloop. Dit gee hulle ook die geleentheid om intelligente vrae oor die spesifieke beroep te vra. Sakeondernemings kan hulself op die webwerf www.loopbaan.co.za registreer. Hoerskoolleerlinge kan die ondernemings dan op 25 Mei besoek.