Met die stigting van Helpende Hand Warmbad tak het hierdie dinamiese span vanuit die staanspoor besluit om opheffings- en uitreikingsprojekte vir die weerloses van hulle gemeenskap aan te pak. Kinders en bejaardes lê die bestuur baie na aan die hart en oor die afgelope ses maande het hulle reeds berge versit.

Die eerste stap was om ondersteuning te bied aan ʼn groep baie behoeftige bejaardes wat in Salus-oord se munisipale huisies bly. Hierdie groepie mense word gehelp deur bedinging met die munisipaliteit rakende hul buitengewoon hoë kragrekeninge. In samewerking met Mabalingwe Wildreservaat en die plaaslike Pick ʼn Pay winkelsentrum kon die bejaardes ook ʼn heerlike Kers-uitstappie vol bederf, na die wildreservaat meemaak. Deel van ons doelwit is ook om Salusoord se bejaardes meer spesiaal en minder “vergete” te laat voel en die bestuur het dit op hulle geneem om te sorg dat elke inwoner met sy/haar verjaardag ʼn geskenkie en ʼn verjaardagkoek ontvang.

Die ongelooflike impak van hierdie inisiatiewe het die tak ook inspireer om ʼn stap verder te gaan. Die pensioenarisse van Salus-oord het dalk ʼn tekort aan fondse, maar daar is ook ander pensioenarisse in die gemeenskap wat bloot ʼn tekort aan geselskap en buitemuurse aktiwiteite het. Die tak het dus ook besluit om sosiale armoede in die gemeenskap op ʼn manier aan te spreek.

Daar is besluit om maandeliks ʼn “pitkos vir die siel” oggend by “Die Kasteel” in Warmbad aan te bied – waar gaste motiverings- en inligtingspraatjies ontvang – en sommer net geleentheid gegee word om lekker saam te kuier. Die eerste “pitkos vir die siel” oggend is op 3 April gehou – en alle pensioenarisse van Warmbad is genooi om dit by te woon. Amelia Morgenrood van PSG makelaars het gaste kom toespreek oor bestuur van finansies en ons eie Elma van den Berg het ʼn inspirerende motiveringspraatjie aangebied. Meer as 80 pensioenarisse het die geleentheid bygewoon en het na afloop van die praatjies lekker gekuier met groot bederf wat deur die takbestuur gereël is.

Warmbad tak het voorwaar hulle eie verwagtinge oortref met ʼn wonderlike inisiatief wat op ʼn “eenvoudige” manier ʼn spesiale impak op hul gemeenskap maak. Kinders is inderdaad ons toekoms, maar dis belangrik dat ons ook onthou om eer te betoon aan diégene wat die hede vir ons moontlik gemaak het.