SOLIDARITEIT 01 Julie 2012 Bladsy 46

Beroepsport in ons land het min bekendstelling nodig. Benewens die gedurige rondreis om aan kompetisies en wedstryde deel te neem, kry beroepsportmanne en -vroue baie geleenthede om nasionaal en internasionaal met belangrike netwerke te doene te kry en unieke kontakte op te bou. Vir baie klink dit soos ‘n droom, maar beroepsport is nie iets wat sommer oornag in jou skoot val nie, skryf Karin Venter van Solidariteit Helpende Hand se Beroepsleidingsdiens.

 

Moenie moed opgee nie

Franco van der Merwe, slot van die Goue Leeus en nuwe toevoeging tot die Springbokspan, droom al sedert sy kinderjare van rugby en toe die geleentheid om ernstig te speel op universiteit oor sy pad kom, het hy dit met albei hande aangegryp. “’n Mens moet geduldig wees en hard werk om ‘n geleentheid te kry, en natuurlik talent hê. Baie keer gee talentvolle spelers net te gou moed op,” sê Franco. Hy is in 2004 verkies vir Suid-Afrika se o.21 -span. Jy kan nie besluit om skielik ‘n sport ster te word nie, meen Franco.

Skep geleenthede waar daar nie is nie

Dr Org Strauss, spandokter van die Blou Bulle, meen ook dat geleenthede soms onverwags opduik. Hy het op universiteit reeds as mediese dokter betrokke geraak by rugbyspanne vanweë sy groot belangstelling in dié sportsoort. Later is hy deur ‘n voormalige kollega genader om by die Bulle betrokke te raak. Hy is ‘n voorbeeld van
hoe ‘n mens jou passe vir sport met jou aanleg en beroep kan kombineer. “As daar nie geleenthede is waar jy wil werk nie, maak geleenthede. Met jou natuurlike aanleg en goeie menseverhoudings kan jy altyd geleenthede skep.”

Moenie al jou eiers in een mandjie pak nie

Die bekende Suid-Afrikaanse swemmer Lyndon Ferns was deel van die aflosspan wat in 2004 ‘n goue medalje by die Olimpiese Spele verower het. Hy was ook ‘n lid van die swemspan wat 2006 ‘n goue medalje by die Statebondspele verower en boonop die rekord laat spat het. Lyndon het die geleenthede wat sport hom gebied het, met albei hande aangegryp om van sy lewe ‘n sukses te maak. Hoewel hy in die buiteland aan sy swemloopbaan gaan werk het, het hy steeds tyd gemaak om te studeer. Sy kwalifikasie gee hom die gemoedsrus en versekering dat hy in die toekoms iets sal hê om op terug te val as hy nie meer professioneel kan swem nie, sê Lyndon. ‘n Mens moet nooit al jou eiers in een mandjie pak nie,” reken hy. “Sport het sy plek maar jy moet tog studeer om seker te wees van ‘n inkomste die dag wanneer jy jou swemkappie of rugbystewels ophang.”

Wees bereid om opofferings te maak

Hierdie mening word gedeel deur Franco van der Merwe, ‘n professionele rugbyspeler wat sy honneursgraad in menslike hulpbronne verwerf het voor hy sy rugbyloopbaan afgeskop het. Nog iets wat beroepsportlui se loopbane onderskei van die van hul eweknieë in ander beroepe, is die feit dat hul grootste werkdag gewoonlik op ‘n Saterdag is—die dag waarop die res van Suid-Afrika luilekker voor die televisie lê en ontspan. “Naweke is nooit weer jou eie nie. Professionele sport gaan gepaard met baie opofferings,” sê hy. “Dit is egter alles die moeite werd. ‘n Passie en liefde vir sport gaan in dié beroep saam soos pap en wors.”