10 Briewe van dank aan die Studiefondssentrum

Met Solidariteit Helpende Hand Studiefondssentrum se tiende bestaansjaar het ons besluit om tien studente te nader om hulle ervaringe te deel. Ons moet erken, ons het wonderlike getuienisse ontvang en ons is dankbaar om so ‘n groot verskil te kan maak. Hier volg 10 briewe van 10 studente:

‘Geagte Stefan, ek wil opreg dankie sê vir die studielening. Dit word waardeer en ek weet baie mense vergeet dat die dankie-sê net so belangrik is as die hulp wat aangebied word’ .
– *Luan

‘ Ek sal elke dag dankbaar wees vir my nuwe lewe! Julle het aan my ‘n nuwe kans op ‘n blink toekoms gegee!’
– *Chanelle

‘Vergun my asseblief die voorreg om dankie te sê vir die geleentheid wat weens die studiefonds vir my oopgegaan het. Vanaf 2018 kon ek my drome om aan die Universiteit van Pretoria te studeer verwesenlik. Nie net om myself in Oudiologie as beroep te bekwaam nie, maar ook om te kan aangaan met dit waarvoor ek baie lief is, naamlik atletiek en landloop as sportsoorte. Mag ek in alle nederigheid vir u en almal betrokke, spesifiek ook Solidariteit Helpende Hand, nooit teleurstel met u keuse as kandidaat vir u studiebeurs nie.’
– *Johan

‘ Vandag is ek ‘n onderwyseres. My ouers wou nog altyd gehad het dat ek moes studeer en ek kan met trots sê dat ek ‘n graad behaal het en sonder die bekommernis van rente my eie studies afbetaal het! Dankie SFS!
– *Marlie

‘Graag wil ek baie dankie sê aan Solidariteit Helpende Hand en JRD-Studiefonds vir die ondersteuning, geleentheid en die vertroue wat julle in my as student gestel het. Ek kon my studies voltooi en my doelwit bereik! Dit is met groot dankbaarheid dat ek my Bacculaureus Technologiae in Mediese Prostesis verwerf het.
Die tyd aan die Universiteit was ‘n wonderlike geleentheid en ervaring om my te leer en voor te berei vir my toekoms.
– *Bennette

Vir my is julle ‘n groot steunpilaar vir die Suid-Afrikaanse gemeenskap en maak julle dit moontlik dat hierdie wonderlike land van ons ‘n voorspoedige uitsig het. Hou aan om mense se lewens vir die beter te verander! Julle het ‘n groter invloed as wat julle besef.
Dankie vir julle ondersteuning en hulp.
– *Andre

Ek wil ook graag dankie sê aan Helpende Hand Studiefondssentrum vir die lening wat dit moontlik gemaak het om nie net een nie, maar twee grade te kan voltooi (BSc en Honneurs). Ek is werklik dankbaar daarvoor.
Groete,
– *Janneke

Ons het by verskeie instansies aansoek gedoen vir lenings en beurse, maar kon nog nêrens anders regkom nie. Ons gesin gaan deur n baie moeilike tyd, maar danksy jouself en Solidariteit Helpende Hand Studiefondssentrum, kon Hannes voortgaan met sy studies. Ek wil maar net weer sê dat ons julle ewig daarvoor dankbaar sal wees.
Harlike groete.
– *Hannes

‘As ’n alleen mamma gaan dit maar moeilik, maar ek wil graag die beste vir my seun gee wat nie altyd moontlik is nie. Jan is werklik ’n besonderse jongman/persoon en kind. Altyd daar om sy medemens te help. Uitstekend met ysterwerk. Met jul hulp sal dit hom die kans gee om sy drome vinniger te bereik, sodat hy eendag ander jong manne kan help en optel in die lewe.
– * Monique

‘Dankie vir ‘n wonderlike span vir al my wonderlike geleenthede! Ek sal altyd dankbaar wees vir die geleentheid wat julle aan my en my sussie gegee het!’
– *Helene

*** Name is fiktief.