2 kontinente, 20 lande en 22 000km om kinders van ’n bord kos te voorsien

Twee oud-Suid-Afrikaners pak toer aan om Helpende Hand se voedingsprogram te ondersteun.

Twee Suid-Afrikaanse motorfietsryers wat die afgelope dekade en meer in Engeland woon, het ’n indrukwekkende toer vanaf Londen tot by Kaapstad onderneem ten bate van Solidariteit Helpende Hand se Kosblikkie voedingsprogram. . Na byna drie maande en 22 000km op die pad, baie gebeure en ’n unieke ervaring deur twee kontinente, is Pieter Burgess en sy vriend Rensius Koen uiteindelik veilig by hulle eindbestemming.

Die Suid-Afrikaans-gebore vriende het sowat ’n jaar gelede om ’n braaivleisvuur die toer bespreek en van die oorspronklike vier deelnemers, het net Pieter en Koen enduit kans gesien vir die reis. 22 000 km, 80 dae op die rug van ’n BMW en Yamaha-motorfietse, deur 8 Europese en 11 Afrika-lande te ry met Solidariteit Helpende Hand- se handjie embleem as metgesel.

Die toer werp spesifiek die lig op Helpende Hand se Kosblikkieprojek. Hierdie projek voorsien daagliks ’n bord kos aan ongeveer 4500 kleuters. Hierdie is dikwels die enige kos wat hulle ontvang en help om te verseker dat hulle fisiek, emosioneel en verstandelik groei is.

Volgens Burgess moet daar ’n daadwerklike poging aangewend word om armoede onder Afrikaners aan te spreek. “Dit breek my hart om Afrikaner kinders in plakkerskampe te sien en ek weet dat ons Afrikaner volkie nog sterk genoeg is om dit hok te slaan, soos in die ou dae, toe ons uit die as van die oorlog en depressie opgestaan het,” sê Burgess.

Die twee vriende het die toer aangepak en met die hoop dat geluk aan hulle kant sal wees. Die toer het hulle deur verskeie gevaarlike en afgesonderde dele van Afrika geneem. Hulle het langs die pad by verskeie landmerke besoek. ‘n Groep Suid-Afrikaners het langs die pad by hulle aangesluit om die laaste stuk as ’n groep motorfietsryers saam te ry.

Op Donderdag 15 Desember 2016 gaan die groep ’n draai maak by Ruyterwacht Sentrum vir bejaardes se Kerspartytjie, en op 16 Desember vertrek Koen en Pieter saam Tygervalley HOG groep via Bredasdorp na Kaap Agulhas – die suidelikste punt van Afrika waar hulle toer afsluit.