2018 Moedertaaldag

Wat is ʼn mens se moedertaal? Dis jou huistaal, jou hartstaal, die een wat jy hoor nog voor jy gebore word, die een waarin jy skel en bid, liefhet en baklei.

Taal is ʼn kommunikasiemiddel uniek aan mense. Wikipedia beweer dat daar 7 099 tale in die wêreld gepraat word, waarvan net 23 werklik wyd gebruik word. Die taal wat die meeste gepraat word, is Mandaryns (14,1%), dan volg Spaans (5,85%), Engels (5,52 %) en Hindi (4.46%). Goeiste, waar plaas dit mý moedertaal, Afrikaans? Ons het ʼn jong taal, maar volgens die 2011 statistiek, is Afrikaans die derde grootste taal in die land, as eerstetaalsprekers getel word. Zoeloe met 11,5 miljoen sprekers en Xhosa met 8,5 miljoen sprekers is die eerste twee. Dan volg Afrikaans met 6,8 miljoen eerstetaalsprekers en Engels met 4,8 miljoen eerstetaalsprekers). Die feit is egter dat Engels die taal van die regering, die media en besigheid is. Dit kan met reg die lingua franca van Suid-Afrika genoem word, dit wil sê die taal waarin jy die maklikste geholpe raak. Statusgewys is Engels ook die pronkperd. Baie taalkundiges beweer dat gebroke Engels die wêreld se grootste taal is. Hoekom sal enige ouer dan steeds oorweeg om sy kind in sy eie moedertaal groot te maak? En, dan nog boonop Afrikaans kies?

Hier is hoekom. Jy, liewe ouer of toekomstige ouer, gee vir jou kind deur hom of haar met ʼn minderheidstaal groot te maak die gawe van meertaligheid.

Jy, liewe ouer, is die een met die mag in jou hande om jou kind meertalig te maak. As ʼn kind in Engels grootword in ons land, benodig hy geen ander taal meer nie. Hy sal waarskynlik eentalig bly, met ʼn gebroke tweede taal wat hy iewers, hetsy by skool of by die huis sal aanleer. Hierdie is egter ʼn veralgemening en gebaseer op die gemiddeld. Daar is altyd uitsonderings!

Dis doodeenvoudig onmoontlik om in vandag se tyd nie Engels aan te leer nie. Vandag se kinders word letterlik in ʼn see van Engels gebaai. Soos die taalkundiges sê, “language is caught, not taught”. Vóór die ouderdom van ses, absorbeer kinders asof vanself taalkodes uit hul omgewing. Dit werk op die beginsel van kontaktyd. Die taal waaraan die kind die meeste blootgestel word, is die een wat hy eerste sal aanleer. Ouers wat verstom staan dat hul Afrikaanse kind sommer oornag Engels begin praat kan dit verklaar met die beginsel van kontaktyd! Om ʼn kind in sy moedertaal groot te maak, verg inspanning. Dis ʼn besluit wat mens bewustelik moet neem, en een waarby mens moet bly as jy eers begin het daarmee. Hoekom? Want, jy kan vir jou kind die volgende 5 geskenke gee deur hierdie besluit te neem.

 

  1. Eerstens gee jy vir die kind die gawe van meertaligheid soos hierbo aangeraak. Wanneer ʼn kind se moedertaal vasgelê is, is hulle meer as gereed om nog ʼn taal aan te leer. ʼn Kind kan tot ʼn derde en ʼn vierde taal ook aanleer. Die taalsentrum in die brein word uitgebrei en die brein begin ʼn ingewikkelde vertalingsfunksie wat nooit weer ophou nie. Solank as wat mens meer as een taal magtig is, is jou brein op “outomatiese vertaalfunksie.” Dis kragtige breingimnastiek. Meertalige kinders gaan die lewe in met meer selfvertroue. Hulle kan beter in chaos funksioneer en is hoog in aanvraag in die beroepslewe. Dit maak van hulle ook mense wat meer empatie toon, want hoe meer tale jy praat, hoe beter is jou begrip vir die sprekers van elk. Die Franse glo dat elke taal wat jy praat, jou ʼn wyer lewensbeskouing gee.

 

  1. Die tweede geskenk is intelligensie. Ja, jy het reg gehoor. Ouers is meer natuurlik wanneer hulle in hulle eie taal funksioneer. Begrippe wat in mens se moedertaal gevestig word, kan met gemak na Engels, of enige ander taal, vertaal word. Terapeute vind dikwels dat kinders nie met wiskunde sukkel as gevolg van syfervaardigheid nie, maar oor taalvaardigheid. Deur te praat met jou kind en hom of haar verskillende begrippe te leer kan jy jou kind ongelooflik baie help in baie verskillende leerrigtings. Die feit dat moedertaalsprekers ook ander tale moet aanleer om sodoende met ander mense van ander kulture te kan praat, byvoorbeeld Engels, impliseer dat hul breine harder moet werk. Dikwels word Afrikaanse kinders na ʼn Engelse crèche of kleuterskool gestuur, waar die kind aanvanklik baie stil is en male sonder tal beveel oningeligte onderwysers die ouers dan aan om tuis Engels met die kind te praat sodat hulle makliker kan inskakel. Dit maak die kind uiteindelik eentalig. ʼn Ouer wat vasbyt en seker maak dat daar voldoende kwaliteit en kwantiteit stimulasie, in die kind se moedertaal, aan hom of haar bestee word, kan verseker wees dat die kind vlot tweetalig sal raak. Dis waar rympies, liedjies, stories en voorlees goud werd is. Hierdie tydperk van stilte wat die kind ervaar, wanneer hy of sy nog nie die vreemde taal praat nie, word tereg “the quiet period” in Engels genoem. Verder is meertalige kinders bekend daarvoor dat hulle eers later vlot begin praat, omdat hulle breine besonder hard moet werk. Wees geduldig: kort voor lank gaan jy hom of haar nie kry om op te hou praat in enige van sy of haar twee tale nie!

 

  1. Die derde geskenk is dié van intimiteit. ʼn Baba kan voor geboorte reeds sy ma se stem eien. Op twee maande begin ʼn baba se hart vinniger klop as hy sy moedertaal tussen vreemde tale hoor. Verstommend, nie waar nie? ʼn Gesin met ʼn huistaal, wat anders is as die lingua franca, het ʼn intieme konneksie met hulle moedertaal. Hulle het ʼn geheime kode wat nie almal verstaan nie. Hierdie raak al hoe meer toepaslik vir Afrikaans in Suid-Afrika. Daar is heelwat geskryf oor egpare wat met mekaar Afrikaans praat, maar met die kinders Engels. Daar vind tog ʼn mate van vervreemding plaas, want kinders word van sekere gesprekke uitgesluit. Dit is veral oupas en oumas wat in die geheim kom kla as hulle nie met hul kleinkinders in hulle hartstaal kan kommunikeer nie. Vertrou jou kinders! Hulle breine het genoeg kapasiteit om twee tale te kan hanteer. Onthou ook die uiters belangrike beginsel van OPOL: “one parent, one language”. Een gesig moenie twee tale met die kind praat nie. ʼn Gesig druk af op ʼn kind, en hulle maak verbindings met die gesig en die taal wat hulle hoor. Hou die taal wat die gesig praat konstant, veral as hulle baie klein is.

 

  1. Verder help jy hulle met hulle soeke na identiteit. Wie is ek? Dis die groot vraag waarmee elke tiener op die planeet worstel. Die soeke na identiteit is ʼn groot werklikheid vir kinders tussen 11 en 16, beweer die sielkundige Erik Erikson. ʼn Kind wat onbeskaamd sy kultuur en taal ken, praat en geniet, het reeds ʼn deel van daardie wroeging oorkom. Dit is iets om in gedagte te hou wanneer mens ʼn hoërskool vir jou kind kies. Hou jou kind se identiteit in gedagte en maak seker dat jou kind ander groepe se kultuur en taal net so baie respekteer soos sy of haar eie. Omdat jou kind tweetalig is, behoort dit vir hom ʼn natuurlike hoflikheid te wees om na Engels oor te slaan om ander te akkommodeer in ʼn gespreksituasie waar die ander spreker anderstalig is.

 

  1. Die vyfde geskenk is die van bo-gemiddelde sosiale vaardighede. Meertalige mense kom makliker sosiaal oor die weg. Wanneer mens iemand se taal met hom praat, praat jy met sy hart. Dink net aan hoe baie jy dit waardeer wanner ʼn Zoeloe- of Sothospreker oorslaan na jou taal toe. As die moedertaal eers gevestig is, kan die kind se oppasser gerus met hom of haar in sy of haar eie taal praat, of dit nou Venda of Tswana of Engels is. Onthou net steeds die OPOL-beginsel van vroeër. Elkeen wat ʼn inheemse taal in ons land magtig is, kan getuig van die deure en harte wat oopgaan sodra mens daarin met mekaar gesels.

 

Moedertaaldag gee vir ons elkeen die geleentheid om oor ons eie moedertaal na te dink, maar ook oor dié van ander. Die gebruik of nie gebruik van mens se moedertaal is soos die sport reël: “Use it or lose it”. Net ons wat die minderheidstale praat, kan hul toekoms verseker. En hoekom baklei ons dan vir die voortbestaan van ons taal? Vir dieselfde rede as wat mens baklei vir diversiteit in die natuur. Soos die renoster is ons ook op die gevaarlys, maar ons is steeds daar. Wie wil nou in ʼn wêreld sonder renosters bly?

Hierdie artikel is geskryf deur Christien Neser, bekende spreker en kinderboekskrywer.