Solidariteit Helpende Hand se bedryfshoof in tragiese motorongeluk

Dr. Dirk Herman, Voorsitter van die direksie van Solidariteit Helpende Hand en Bestuurshoof van Solidariteit, het bevestig dat Dr. Danie Brink, Uitvoerende Direkteur van Solidariteit Helpende Hand, en sy gesin, in ’n ernstige motorongeluk was op die oggend van 16 Desember 2016.

 

Nooddienste het gedurende die oggend bevestig dat die ongeluk, wat op die R34 tussen Brandford en Theunissen plaasgevind het, die lewens van twee kinders geëis het en ’n vrou in kritieke toestand gelaat het. Brink en twee van sy kinders het slegs ligte beserings opgedoen terwyl sy vrou en een seun in die hospitaal op Welkom opgeneem is vir behandeling. Die familie het bevestig dat twee van die egpaar se kinders oorlede is. Die Brink gesin was op pad om by hul familie aan te sluit vir hul Kersvakansie en het beplan om op Theunissen oor te slaap.

 

Herman het namens die Solidariteit Beweging en Solidariteit Helpende Hand meelewing betoon met Brink en sy gesin: “Ons is almal geskok en bid dat die Here die gesin en familie in Sy troos sal omvou.”