30 Mpumalanga- Kerswense oor 30 dae!

Dit is amper Kersfees en Solidariteit Helpende Hand se Mpumalanga-streek wil mense se Kerswense bewaarheid. Van 15 November tot 15 Desember 2017 kan mense iemand nomineer om ʼn wens vir daardie person te bewaarheid. Oor die volgende 30 dae sal daar elke dag ʼn wens ter waarde van R1 000 gekies word om op die ou end so 30 wense te bewaarheid.

Dalk ken jy ʼn bejaarde wat baie graag vir sy of haar familie wil gaan kuier, maar nie ʼn vliegkaartjie kan bekostig nie. Dalk weet jy van ʼn kind wat ʼn fiets benodig, maar die familie kan dit nie bybring nie, of jy weet van ʼn sopkombuis wat dringend niebederfbare voedselprodukte benodig of ʼn ouetehuis wat komberse vir hul inwoners wil gee. Wat ook al die wens is, jy kan daardie persoon of instansie nomineer om hul Kerswens tot en met ʼn bedrag van R1 000 te bewaarheid!

“Ons het die heel jaar lank mense gehelp wat in nood verkeer. Nou kry ons egter die geleentheid om mense se drome waar te maak. Dit is ʼn baie spesiale geleentheid wat Helpende Hand graag aangryp,” sê Alisha de Lange, streeksorganiseerder vir die Mpumalanga-streek.”

Nomineer sommer dadelik iemand wat jy meen ʼn spesiale Kerswens verdien. Persone wat genomineer word, moet in Mpumalanga woon en slegs versoeke wat per e-pos aan [email protected] gestuur word, sal oorweeg word.

Vir meer inligting kontak gerus vir Alisha de Lange op 082 923 1438 of stuur ʼn e-pos na [email protected]