Afdankings, afleggings … wat as dit met my gebeur?

Werksonsekerheid is ʼn realiteit waarmee duisende mense elke dag te doen kry – selfs sogenaamde welvarende gesinne kan hulself in ’n moeilike situasie bevind wanneer een van die egpaar hulle werk kwyt is. Self die gemiddelde middelklas gesin loop die risiko om in armoede te beland. Volgens prof. Jannie Rossouw van Wits se Skool vir Ekonomie en Besigheidstudies is “die gemiddelde middelklashuishouding twee salaristjeks weg van armoede. Die broodwinner of broodwinners verloor hul werk en binne twee maande is alle reserwes wat hulle tot hul beskikking gehad het, uitgeput. Dan verval hulle in armoede.”

Afdanking

Rebecca se man het ‘n nuwe pos aanvaar en sy proeftydperk was nie suksesvol nie. Middel November 2016 hoor hy dat hy nie meer ‘n werk het nie. Vakansieplanne, kersgeskenke, familiekuiers –  alles by die deur uit. Skielik moet Rebecca se salaris gerek word om skoolfonds, huislening en motorpaaiemente te betaal. Kos, doeke, skoolbenodigdhede en skoolklere sal moet wag. Haar Desember-bonus was die redding. Te danke aan die goedheid van mense in hul ondersteuningsnetwerk kon hulle uitkom tot haar man in Februarie ‘n nuwe werk aangebied is. “Die angs wat die gesin ervaar het en die druk waaronder ek skielik verkeer het, was traumaties,” meen sy. “Ek kan ook net dink hoe so ʼn skok ʼn stremming op mense se huwelike kan plaas.”

Afgelê

Die skok was groot vir Jarinda wat nie daaropvoorbereid was om die broodwinner te wees nadat haar man afgelê is nie nadat die maatskappy vir hy gewerk het, se deure sonder waarskuwing gesluit het. Vir haar was die grootste uitdaging om haar man staande te probeer hou, terwyl sy self gesukkel het om die druk te hanteer.

Die eerste twee maande kon hulle deurkom, maar toe moes Jarinda haar kar verkoop om hul huislening en skuld te dek. Vyf maande het verbygegaan. Daar was geen werk of UIF wat uitbetaal het nie. “Al wat my deurgedra het, is my geloof,” meen Jarinda. Honderde CV’s is uitgestuur, maar dit was vrugteloos. Uit desperaatheid het hulle begin vra vir hulp op Facebook en uiteindelik het hy so werk gekry! “Ek besef nou vir die eerste keer die druk wat my man elke maand ervaar om vir ons te sorg.”

Nie een van hierdie twee vroue het ooit gedink dat dit met hulle sou gebeur nie, maar dit het. Kenners raai jou aan om te spaar vir die onwis, maar in vandag se ekonomie is dit nie so maklik nie. Baie min mense maak voorsiening of het genoeg spaargeld om die wa deur die drif te trek wanneer die bom bars.

Hier is ʼn paar wenke vir ʼn tyd wanneer ’n gesin in die nood is:

  • Sodra jy kan, tref reëlings oor moontlike betalings wat jy nie sal kan bybring nie. Moenie wag totdat die rekening agterstallig is nie, want dan mag krediteure minder goedgunstig wees.
  • Vind uit of jy enige kredietbeskermingsplanne op jou skuld soos kredietkaarte en winkelkaarte het. Party planne sal jou skuld namens jou vereffen, en ander staak jou paaiemente vir ‘n tydperk.
  • Huislenings het meestal huiseienaarsversekering wat met werkaflegging jou paaiemente of skuld sal dek. Gedeeltelike of algehele kwytskelding sal vir ‘n tydperk toestaan word.
  • Openbare skole gee kwytskelding vir skoolgeld waar dit nie vir ouers moontlik is om te betaal nie.
  • Maak seker van jou mediesefondsstatus, veral as dit die maatskappy se fonds is. Probeer om oor te skuif na ‘n goedkoper plan of fonds. ’n Hospitaalplan is ook ’n goeie opsie.
  • Doen aansoek vir UIF. Daar is verskeie vorms wat ingevul moet word en dit neem ’n tyd. Besoek: http://www.labour.gov.za/DOL/legislation/acts/how-tos/unemployment-insurance-fund-uif/how-to-claim-uif-unemployment-benefits
  • Raak ontslae van enige onnodige uitgawes (gimnasium- of ander lidmaatskap, DSTV, wegneemetes), en kyk of daar enige ander maniere is om ‘n inkomste in te bring.
  • Dateer so gou as moontlik jou CV op en maak gebruik van jou ondersteuningsnetwerk om saam met jou uit te kyk vir werk.
  • Plaas jou CV op werksoekwebblaaie soos werknet.co.za
  • Gebruik sosiale media om te kyk vir werksoek-hoekies in jou gemeenskap. Moet ook nie skaam wees om jou CV self na besighede of personeelagentskappe te vat nie.
  • Nader jou kerk vir hulp en stel hulle in kennis van jou situasie.
  • Probeer om intussen self iets te doen om geld te genereer. Dit mag dalk aan jou die geleentheid bied om ’n entrepreneur te word.
  • Moenie moed verloor nie. Kyk op, hou aan bid en moenie gaan lê nie. Jou volgende werk is dalk net om die draai!