Armoede in Suid-Afrika

Vir Helpende Hand is armoede nooit relatief nie – ons dink nooit aan ons mense se swaarkry relatief tot ander mense se standaarde nie. Vir ons is armoede die gebrek aan keuses vir jouself en vir jou gesin. Dit is dus vir ons ’n groot saak van kommer wanneer Afrikaners gebrek ly aan keuses, veral wat betref die opleiding van hulle kinders. Juis daarom fokus Helpende Hand so dringend op die befondsing van jongmense se studies deur R40 miljoen vanjaar aan studiehulp te spandeer.

Die donker prentjie wat deur die verslag geskets word waar 30,4 miljoen landsburgers in armoede leef, is eintlik die skoolrapport van die regering se beleid van regstellende aksie en transformasie. Mense ly weens die feit dat dit vir die regering belangriker is om die N.D.R. te dryf as om die ekonomie te laat groei. Deur staatstoelaes wil die regering die mense bloot laat stem vir ’n lewe, eerder as om elkeen aan te moedig om te werk vir ’n lewe. By Helpende hand probeer ons armoede verbreek deur vir mense te help om ’n werk te kry, ander mense te help om deur kwalifikasies ’n beter werk te kry en ander te help om hul werk te behou.

SADOU is een van die groot olifante in die kamer. Hulle lê die SA-onderwys lam en weens hulle groot politieke invloed sorg hulle dat die jongmense onindiensneembaar bly. Voeg daarby ’n uiters onvriendelike sakeomgewing wat die regering daarstel weens hulle rasgedrewe wetgewing, dan is dit nie vreemd nie dat jongmense van die begin af in tamatiestraat beland nie.

’n Lid van die Menseregtekommissie adv. Mohamed Ameermia sê vandag in… “Dit lyk nie goed”, sê  MRK oor armes in Vrystaat… op Netwerk24 – “dit is elke mense se reg om ’n huis, water, krag, riolering en mediese sorg van die regering te kry. Sulke uitlatings spreek boekdele oor die sosialistiese denke van die dag wat in kontras staan tot die welvaart wat geskep word wanneer die vryemark vrye teuels gegun word. In die vryemark kan deelnemers bekostig om hierdie dinge vir hulself aan te skaf.

Van alle soorte hulp wat die staat aan landsburgers gee is Helpende Hand slegs ten gunste van onvoorwaardelike hulp aan weerloses – bejaardes, kinders en gestremdes. Enige ander hulp in die vorm van gratis produkte en dienste aan mense wat veronderstel is om “in die sweet van hul aangesig hul brood te verdien” is dié soort hulp waarvan gepraat word in boeke soos “Toxic Charity” “Dead Aid” en “When Helping Hurts”. Die verslag wys egter dat die regering se “Toxic Charity” die derde vinnig-groeiendste item van regering-spandering is – in die 2016/17-begroting behels dit R164,9 biljoen wat sal styg tot R209,1 miljard teen 2019/20. Ongeveer 60% van die regering se begroting word spandeer aan een of ander vorm van “social wage” – alles bedoel om te help, maar dit maak seer.