Bakgat bejaardes soek borge om opskop by te woon

Solidariteit Helpende Hand se Wes-Kaapse takke beplan ’n reusebederf vir bejaardes in die provinsie. Die vrywilligers gaan op 5 Junie 2017 900 bejaardes na die jaarlikse Bakgat Country Opskop neem. Om hierdie inisiatief te bewaarheid, het die takke hulle tot die publiek gewend vir ondersteuning.

Verlede jaar het die Wes-Kaapse takke meer as 400 bejaardes op dieselfde manier bederf. Vanjaar wil hulle egter nog groter gaan en nog meer bejaardes die geleentheid gee om ’n opwindende dag saam met ander bejaardes en die 100 Helpende Hand-vrywilligers te geniet. Die Bakgat Country Opskop vind jaarliks plaas en groot geeste soos Steve Hofmeyr, Manie Jackson, Lance James en Barbara Ray sal te siene wees.

“In 2016 het ons 400 bejaardes na die Opskop geneem en hulle praat nou nog daaroor,” sê Wilinda Ford, die Wes-Kaapse streeksorganiseerder. “Ons ry die bejaardes van heinde en verre af aan na die geleentheid. Hulle kom van Goodwood, Parow, Bellville, Melkbosstrand, Kraaifontein, Brackenfell, Ruyterwacht, Vredendal, Gansbaai, Saldanhabaai, Strand, Wellington en die Paarl.”

Dié reuseprojek is deel van Helpende Hand se Bejaardesorg-projekte, maar dit word deur die takke self befonds. Daarom vra hulle die publiek om ’n bejaarde se eensaamheid te verlig deur die projek met donasies en selfs rygeleenthede te ondersteun.

“Ons het baie gereelde ondersteuners, maar die projek is nou te groot vir ons alleen en te belangrik om nié te doen nie. Elke kaartjie kos R140 en ons wil ook vir die bejaardes voorsien van lekkernye en slaapsokkies vir die Kaapse winter.”

Volgens Ford is eensaamheid een van die grootste probleme wat bejaardes in die gesig staar. Helpende Hand glo dat bejaardes ’n baie belangrike deel van ons samelewing vorm, maar hulle word dikwels deur siekte of armoede randfigure wat in stilte swaarkry.

Om betrokke te raak by die projek of om dit te ondersteun, kontak Wilinda Ford by [email protected]. Regstreekse betalings kan in die streek se rekening inbetaal word. Hul bankbesonderhede is soos volg:

Solidariteit Helpende Hand

FNB

Rek.nr.: 62346429055

Tak: Centurion of takkode 261550

Verwysing: persoon se voorletter en van of besigheid se inligting / BAKGAT