Bejaardes baat by skenkings van gehoortoestelle

Solidariteit Helpende Hand is sedert 2015 besig om behoeftige bejaardes by te staan in hul pad na beter gehoor. Impact Hearing skenk gehoortoestelle en deur dié samewerkingsooreenkoms spoor Helpende Hand mense op wat dit die nodigste het, maar dit nie kan bekostig nie. Die organisasie nooi behoeftige bejaardes wat gehoorgestremd is om aansoek te doen vir gratis behandeling.

 

Gedurende die drie jaar van die projek is ongeveer 130 bejaardes al gehelp om vir die eerste keer in jare hul geliefdes se stemme te hoor. Die bejaardes moes almal gehoortoestelle kry, maar kon dit nie bekostig nie en hulle het ook nie oor ʼn mediesefonds beskik nie. Helpende Hand het saam met Yentel Vorster van Impact Hearing aan hulle ʼn gehoorapparaat geskenk en ook die passing gratis gedoen.

 

Volgens René du Preez, projekorganiseerder by Helpende Hand, lê bejaardes Helpende Hand na aan die hart en deur middel van verskeie inisiatiewe is die Ouma-en-Oupa-projek daarop gefokus om persone ouer as 60 jaar te ondersteun, te bederf en te vereer. “Dit is ʼn geweldige voorreg vir Helpende Hand om weer vir bejaardes menswaardigheid en sosiale interaksie terug te gee. Sosiale isolasie deur gehoorverlies lei na depressie, en kan ook baie keer na ander siektes lei. Hierdie projek het ʼn baie positiewe invloed op bejaardes se lewens,” sê Du Preez.

 

Op 8 Augustus was Helpende Hand daar toe Yentel Vorster ʼn groep bejaardes se nuwe toestelle vir hulle oorhandig het. Anthonie Burger sê sy gehoorprobleem het hom nie so erg gepla nie, maar sy vrou het wel daaroor gekla. Hy sien uit daarna om weer met haar te skerts en te kan gesels met sy familie. Hendrina Horgan sukkel veral met kommunikasie in raserige omgewings. Sy is vol hoop dat haar lewe voller en meer sosiaal sal wees.

 

Toetsing vind vanjaar weer plaas, en meer as 30 bejaardes het al toestelle ontvang. Daar word wel versoek dat bejaardes met eie vervoer na die toetsing moet kom, aangesien vervoer nie verskaf sal word nie.

 

Doen gerus aansoek deur René du Preez by 012 644 4390 te skakel. Sy sal u help om ʼn aansoekvorm in te vul en ʼn afspraak te maak. U kan ook ʼn e-pos stuur aan [email protected]

Hendrina Horgan, Yentel Vorster van Impact Hearing en Anthonie Burger wat beide  met gehoortoestelle gehelp is.