Bejaardes kry weer ’n nuwe uitkyk op die lewe

Dr. MC Niemandt en Elize Ferreira. Foto: Phillip Bruwer

“Goeie nuus, julle almal se katarakte is nou in die asblik!”

Dít was die woorde van dr. Marcel C Niemandt, ’n oogchirurg van Pretoria, aan ’n groepie bejaardes terwyl hulle geduldig met oogklappies in ’n kamer by die Intercare-dagkliniek in Hazeldean sit en wag.

Daar was trane van blydskap en dankbaarheid toe Niemandt hul oogklappies afhaal en hulle weer vir die eerste keer in jare kon sien, al was dit nog deur jeukerige, bloedbelope oë van die dag tevore se katarakchirurgie.

Navorsing toon dat minstens 80% van alle blindheid of verswakte visie voorkombaar is en die mees algemene oorsake daarvan is katarakte. ʼn Katarak is ʼn opeenhoping van proteïen op die ooglens wat visie beïnvloed en word dikwels vereenselwig met persone wat al ʼn rype ouderdom bereik het.

Niemandt verduidelik dit kos egter tussen R25 000 en R30 000 om ’n katarak te laat verwyder en dat daar verskeie mense is wat dit nie kan bekostig nie en jare lank op waglyste moet wag vir ’n soortgelyke operasies in staatshospitale.

Hy het dus toe hy in 2013 by Intercare Mediese Sentrum in Hazeldean begin praktiseer het, onderneem om elke jaar tydens Ooggesondheid-bewusmakingsmaand, van 23 September tot 18 Oktober, ’n week uiteen te sit om ’n aantal behoeftige se las ligter maak deur gratis katarakchirurgie uit te voer.

“In 2013 kon ons tien mense help. Daarna kon ons jaarliks al hoe meer mense help. Ongelukkig kon ons in 2017 niemand help nie weens befondsingsprobleme. Vanjaar kon ons egter met die hulp van Operation Healing Hands, Good Morning Angels, Helpende Hand en talle ander borge dit moontlik maak om 45 mense weer te help om te sien,” sê dr. Niemandt.

Helpende Hand kon sedert Julie vanjaar met die hulp van Maroela Media genoeg kandidate vir dié operasies identifiseer, waarna hulle deur ’n keuringsproses en oogtoetse gegaan het. Hulle kon vandeesweek uiteindelik die langverwagte prosedure gratis ondergaan by Intercare Day-Centre Hazeldean wat teatertyd en personeel gratis aangebied het.

Operation Healing Hands, ’n span dokters in die private sektor wat pasiënte help wat nie onder normale omstandighede mediese dienste kan bekostig nie, het vanjaar ingegryp om Niemandt se inisiatief weer op dreef te bring.

Dr. Helene Basson, ortopediese chirurg, staan aan die stuur van hierdie liefdadigheidsorganisasie.

“Ons het ’n massapoging aangepak om seker te maak dat die projek vanjaar nie weer platval nie. Met die hulp van onder meer die Caring Daises, Round Table, Ossa en die Right To Sight Trust kon ons saam met die ander rolspelers hande vat om al hierdie mense te help. Ons sal die poging beslis weer volgende jaar ondersteun. Wat dr. Niemandt vir die mense gee is lewensveranderend. Dit is ’n iets klein wat ’n groot inpak op ’n mens se lewe het,” het Basson gesê.

Een van die bejaardes wat vanjaar by die inisiatief gebaat het, is Piet Ueckermann (76) van Witbank in Mpumalanga. Hy het elf jaar gelede begin sig verloor en het 10% visie in sy oë oorgehad voor vandeesweek se operasie.

“My dogter het van die inisiatief op Maroela Media gelees en met Helpende Hand in verbinding getree. Ek het vir die toetse gegaan en was oorstelp van vreugde toe ek hoor dat ek gekeur is. Ek is opreg dankbaar en bly om weer te sien. Ek sien sommer weer uit na alles,” het Ueckermann gesê.

Elize Ferreira (73) van Kroonstad in die Vrystaat, het ook van die inisiatief verneem en aansoek gedoen nadat sy vir langer as twee jaar op ’n waglys moes wag vir ’n operasie by ’n staatshospitaal.

“Ek en my familie was in trane toe ons die nuus kry dat ek gekeur is. Ek kon dit nie glo nie. Ek kan nou mooi sien en ek sien die meeste daarna uit om weer te lees. Ek is baie dankbaar hiervoor en kan nie al die rolspelers genoeg bedank nie,” het sy bewoë gesê.

Benette Rautenbach, Helpende Hand se projekorganiseerder vir bejaardes, het gesê sy hoop daar is genoeg befondsing om volgende jaar nóg meer bejaardes te help.

“Ek was regtig geraak deur die gebeure by die hospitaal. Dr. Niemandt, Intercare Day-Centre Hazeldean en Operation Healing Hands het hande gevat en kon ’n platform skep waarheen ons behoeftige bejaardes kon neem wat nie R30 000 het om vir beter visie te betaal nie,” het sy gesê.

Hou Helpende Hand en die media dop wanneer aansoeke volgende jaar weer oopmaak.