Belangrikheid van kleutervoeding

  • Deur Chanelle Retief – Eienaar NutriFundi

ʼn Gesonde dieet is belangrik vir alle ouderdomme, maar veral vir kleuters.

 

Chanelle Retief. Dieetkundige en eienaar van NutriFundi

Omdat kleuters so vining groei en ontwikkel, het hulle behoorlike nutriënte nodig om gesond en sterk te bly. Die nodige voedingstowwe laat hulle ook gesond en sterk grootword.

Tydens die kleuterjare vind ʼn groot deel van breinontwikkeling plaas; daarom speel ʼn gesonde dieet veral hier ʼn baie belangrike rol. Ons wil natuurlik vir ons kinders die beste begin in die lewe gee, en ʼn goeie dieet is beslis die regte plek om te begin.

Gesonde voeding vir kleuters kan ook help om ʼn grondslag vir gesonde eetgewoontes en voedingskennis te vestig wat hulle regdeur hulle lewens kan toepas. Hoe kleuters vandag eet, kan ʼn groot impak op hul gesondheid regdeur adolessensie en volwassenheid hê. ʼn Ongesonde dieet op ʼn jong ouderdom kan veroorsaak dat kleuters later in hulle lewe met onder andere ekstra gewig, diabetes en hartkwale sukkel. Nie net is gesonde kos belangrik vir kleuters se fisieke gesondheid nie, maar ook vir hulle geestelike en emosionele gesondheid.

ʼn Gesonde dieet verseker dat kleuters genoeg essensiële vitamiene, minerale en ander nutriënte kry wat nodig is om te groei en te ontwikkel. Hierdie nutriënte sluit kalsium, vitamien D, yster en belangrike omega-vetsure in.

  1. Kalsium is baie belangrik vir die gesonde ontwikkeling van kleuters se tande en bene.
  2. Al die B-vitamiene is belangrik vir metabolisme, energie en ʼn gesonde hart- en senuweestelsel. Vitamien B12 is een van die belangrikste B-vitamiene.
  3. Vitamien Dwerk saam met die kalsium om sterk bene te bou, en dit kan ook help om die kleuter teen ander chroniese siektes later in sy/haar lewe te beskerm.
  4. Vitamien E versterk die immuunstelsel.
  5. Yster is om verskeie redes baie belangrik vir die kleuter, maar veral omdat dit help om die suurstof van die longe na die res van die liggaam te vervoer. Yster help ook die spiere om suurstof te stoor en te gebruik.

ʼn Gesonde dieet bestaan uit ʼn wye verskeidenheid vrugte en groente (dink aan al die kleure van die reënboog), volgraan-koolhidrate eerder as verfynde koolhidrate, bone, lensies, laevet vleis en vis, asook neute en sade.

Dit is belangrik dat kleuter ʼn goeie rolmodel het om na op te kyk – jy sal verbaas wees watter goeie en slegte gewoontes kinders by hulle rolmodelle aanleer.

Indien jy sukkel om jou kleuter gesond te laat eet, probeer gerus om hom/haar by kosinkopies, kosmaak en die kies van resepte te betrek. Hoe meer die kind betrokke is, hoe beter is die kans dat hy/sy die kos sal eet en geniet.

Indien die kind in die winkels slegs dié soort kosse wil kies wat hoog in suiker en vet is, kan dit dalk ʼn goeie idee wees om vir die kind twee verskillende “gesonder” opsies kos te wys. Verduidelik dan dat hy/hy steeds ʼn keuse het van watter kos gekoop word, maar dat dit slegs een van daardie twee keuses mag wees. Sodoende voel die kind betrokke en verseker jy dat daar gesonde kos in die koskaste is.

Met al die kinderpartytjies en skoolfunksies kan dit soms moeilik wees om seker te maak dat ons kinders genoeg gesonde kos eet. Dit word nie aanbeveel om ʼn kind heeltemal van suiker en lekkernye te weerhou nie, maar die kind moet verstaan dat hierdie dit nie die norm is nie en nie elke dag geëet kan word nie.

Saam met ʼn gesonde dieet is dit ook van kardinale belang om seker te maak dat kinders genoeg water drink en dat hulle nie drankies hoog in suiker inneem nie.

[KYK] hier na die onlangse paneelgesprek met Chanelle Retief:

https://youtu.be/-0pNWOBNU8k

 

Skermskoot van die paneelgesprek met Solidariteit Helpende Hand oor die belangrikheid van kleutervoeding