Skip to content

Bets Muller bring manna uit die hemel

Tannie Bets Muller soek al jare lank na iemand wat haar sal bystaan om Klerksdorp se bejaardes te help. Solidariteit Helpende Hand se Klerksdorp-tak het gehoor gegee aan haar pleidooi met hulle Tuisgenoot-projek.

Die Tuisgenoot-projek is daarop gemik om bejaardes by te staan met hulle daaglikse behoeftes. Muller koop bejaardes se kruideniersware, neem hulle dokter toe en kuier sommer net lekker by hulle om hul eensaamheid te verlig.

Tannie Bets het nog altyd ’n sagte plekkie vir bejaardes gehad.

“Toe ek vir die mensies vertel van die Tuisgenoot-projek het hulle dit ‘manna uit die hemel’ genoem,” vertel sy. “Dit is ook belangrik om die regte mense te help, dus maak ek dubbelseker dat ek weet met wie ek te doen het.”

Bejaardes lê die Klerksdorp-tak baie na aan die hart en dus het hulle verskeie inisiatiewe geloods, soos bv. die Ouma-en-Oupa-projek wat daarop fokus om persone ouer as 60 jaar te ondersteun – en soms selfs ʼn bietjie te bederf! Die fokus van die Tuisgenoot-projek is om verligting vir Afrikaner-bejaardes ten opsigte van voeding, eensaamheid en algemene ondersteuning te bring.

As jy wil seker maak dat die regte mense in jou gemeenskap die nodige hulp kry , word vandag nog deel van Helpende Hand. Só kan die projek oral in Suid-Afrika uitgebrei word. SMS “Hand” na 39950 en word ’n ondersteuner van Helpende Hand.

Vir meer inligting oor die Klerksdorp-tak, kontak gerus vir Jaco Faurie op 082 963 4268 of besoek Helpende Hand se webwerf op www.helpendehand.co.za om meer te leer oor projekte in jou omgewing.