BEWEGING: DIE GEHEIM TOT AKTIEWE VEROUDERING!

Charmanay Schoeman

Die natuur staan nie stil nie, so hoekom staan die mens so dikwels stil?

Ek, as ʼn streekmaatskaplike werker van Solidariteit Helpende Hand, was bevoorreg om onlangs Senior Mind Moves- (SMM-)opleiding te kon ontvang. SMM is ʼn reeks oefeninge spesiaal vir seniors om hul immuniteit te verbeter, selfvertroue te bou en hulle te help om te ontspan. Dit is deur dr. Melodie de Jager, ʼn Britse sielkundige, ontwikkel en verbeter seniors se liggaam, siel en gees. In die opleiding praat ons, onder meer, ook van biomimikrie, bekend as die nabootsing van die natuur. Ons bespreek ook verder die belangrikheid van beweging en die legio voordele wat daarmee gepaardgaan, en ek is verstom oor die voordele en besef ons almal moet meer beweeg.

Elke aksie het ʼn reaksie!

My ouma het altyd opgewonde vir die Comrades-atlete geskree: “Laat jou hakke raas, sussie! Die Comrades gaan nie homself hardloop nie!” Vandag dink ek terug daaraan en besef hoe belangrik beweging is. Beweging gee aan jou rigting (GPS) en skep die geleentheid vir doelgerigte besluite, net soos ʼn atleet wat besluit dat 2022 die jaar is wat hy of sy die Comrades-marathon gaan voltooi. Ten einde die Comrades te voltooi, moet die atleet beweeg, genoeg oefen, ʼn gesonde leefstyl handhaaf, en bowenal gaan hy of sy die bewustelike keuse moet maak om die Comrades deur te sien of te voltooi. Miskien kan of wil jy nie die Comrades hardloop nie, maar pak jou lewenspad met dieselfde doelgerigtheid en ywerigheid as die atleet wat die Comrades hardloop, aan!

Hoe maak jy as ouer persoon jou persoonlike Comrades klaar? – “Laat jou hakke raas, sussie!”

Om iewers te kom, moet jy beweeg, en met die beweging moet jy besluite neem – ek wil in hierdie rigting beweeg, ek wil eers stop, ek wil links beweeg, ek wil regs beweeg, ensovoorts. Volgens SMM bevorder beweging ons denke en bring dit ons weer in kontak met ons ware emosies. Dit skep positiewe gedagtes, en dit gee ons ʼn positiewe uitkyk, wat ons in staat stel om situasies ten volle te beleef, soos wanneer ons met ons vriende en geliefdes sosialiseer.

Geheue soos ʼn olifant?

Ons almal ken daardie een persoon met ʼn geheue soos ʼn olifant. Vra jouself die vraag: Is dit moontlik dat hy of sy alles onthou omdat die persoon gedurig beweeg en aktief bly, en waarom sal dit so wees? Beweging stuur hardwerkende neuro-impulse na die brein, wat die geheue gedurig verfris en ons help om die merkwaardige oomblikke saam met vriende en familie te onthou.

Om oor probleme te sit en tob, is iets van die verlede! Wanneer jy beweeg, begin suurstof soos trotse soldate in die liggaam beweeg. Ons ontvang dan suurstoftoevoer na die brein, wat ons brein helderwakker maak en ons help om met kreatiewe oplossings vir uitdagende probleme vorendag te kom.

“Sjoe, mammie, onthou jy op my jong dae het ek ook so gelyk?” sê my oupa vir my ouma wanneer hy ʼn fris jong man sien, iemand met sterk arms en bene, uitstekende postuur en fikse boude wat lyk asof hy elke dag fietsry. Om só te lyk, benodig mens nie strawwe oefening nie, net gereelde beweging. Gereelde beweging maak ons spiere sterk en help ons om saam met swaartekrag te beweeg. Wals rondom die tafel op die maat van een van André Rieu se besonderse musiekstukke, en neem dan die doelgerigte besluit om positief te dink; dit sal help om die goedvoelhormone te aktiveer. Swaartekrag hou ons nie net stewig op die grond nie, maar sorg dat ons spiere sterk word deur die weerstand wat dit vir ons bied. Swaartekrag help dus met beweging. As jy beweeg, is kromspiergeheue, wat gebeur as jy heeldag met krom skouers sit,  iets van die verlede! Ons maak die keuse om te beweeg, eerder as om in te gee en kromspiergeheue te vorm. Beweging hou die spiergeheue fiks, wat ons help om regop te loop. Dit is belangrik om regop te loop, met jou kop opgelig en maagspiere ingetrek; dit wys dat jy die lewe met selfvertroue aanpak en elke oomblik met ope arms aangryp!

Beweeg deur die dag, en laat die dokter wag!

Hou jou bloeddruk- en cholesterolvlakke laag deur elke dag te beweeg. Dit help jou spysverteringstelsel om optimaal te funksioneer en gee jou algehele gesondheid ʼn hupstoot.

Lag uit jou maag uit, en lag totdat jy huil!

Wanneer laas het jy uit jou maag uit gelag? Sit ʼn oomblik en dink of jy dit moeilik vind om deesdae te lag. Beweging het selfs ʼn kuur hiervoor. Om te lag beweeg jy jou gesigspiere en stel jy twee goedvoelhormone – dopamien en serotonien – in jou liggaam vry. Lag laat jou dus goed voel en bring so selfvertroue mee wat jou kan motiveer om meer sosiaal te wees.   Hou dus aan om op alle manier te beweeg. Neem vandag die besluit om jou Comrades-lewenspad ten volle te hardloop, deur ʼn kwaliteit lewe na te streef. Wanneer jy op hierdie lewenspad moeg word, dink positief en sê vir jouself: “Ek moet beweeg soos die natuur”.