Blom waar jy geplant is

-deur Tanya Rossouw-

Ek het al dikwels die sê-ding “blom waar jy geplant is” gehoor.

Jy moet blom – daar is vir my min dinge so mooi soos ’n blom.  Soms is daardie blom so pragtig, heeltemal foutloos – perfek.  Ek kan my verwonder aan pragtige blomme.  My ma het altyd gesê dat die Here Sy goddelike vermoëns en Sy kreatiwiteit wys in blomme en voëls.  Dis wat altyd ook by my opkom wanneer ek die mooi van blomme bewonder! Kyk hoe MOOI MAAK die Here!

 

As die omstandighede vir “blom” naby aan volmaak is, is dit maklik om mooi te blom.  Maar volmaakte omstandighede is bykans nie moontlik nie.  Tog bly die blom, ’n blom en blom gaan die blom beslis probeer om aan sy roeping te voldoen.

 

Waar jy geplant is, is ook iets waaroor die blom dikwels min of geen beheer het nie.  Soms is die grondstowwe onvoldoende, water en sonlig soms skaars.  Soms kom insekte of natuur elemente en beskadig die blomblaartjies en kan mens sien dat waar hierdie blom geplant is, daar gereeld uitdagings is.  En tog weet die Here dit en is blomme bedoel om buite te groei – uitdagings en al.

 

Daar’s min dinge wat die mens so besig kan hou soos wanneer bome herfsblare afgooi in jou erf.  Ons hark en hark, vir dae aanmekaar, om blare op hope te kry en orde in ons tuine te behou.  Maar is dit God se orde of ons sin?  In die natuur waar blare spontaan tussen seisoene val, hark niemand dit op om “netheid” te probeer bewerkstellig nie.  Het God met alle respek gesê dan daar effens “op geslip”?  Dit kan ek nooit glo nie.  Sou Hy uit beheer wees wat dit betref?  Glad nie.  Gaan lees gerus op oor die waarde van ’n blare bedekking.  God sorg vir alles!

 

Blom jy tans moeilik weens verskeie redes?  Lê die blare in jou binne-tuin die wêreld vol?  Haal bietjie diep asem en vra die Vader – die Tuinier met ’n ander uitkyk op die lewe – om jou blomblare te vertroetel en vir jou nuwe perspektief te gee. Vra gerus vir bietjie meer water, meer sonlig, meer beskutting teen die elemente.

Ons Vader in die Hemel weet wat jy nodig het.  Hy sal jou help om te blom waar jy geplant is, as jy jou blom-gesiggie na Hom draai.