Skip to content

Bou jou eie app

logoWil jy iets weet, doen, of sien? Daar is ’n app daarvoor, en as daar nie een is nie, kan JY nou een bou en geld dááruit maak. Dit is makliker as wat jy dink en jy benodig geen programmeringskennis daarvoor nie. Dit is dié beginsel wat Solidariteit Helpende Hand met ’n unieke projek, wat nog nooit vantevore in Afrikaans aangepak is nie, by Suid-Afrikaners wil tuisbring.

As deel van hul Skole-ondersteuningsentrum het Helpende Hand besluit om oud en jonk te leer hoe om ’n app te bou, onderhou en bemark om daardeur ’n ekstra inkomste vir hulleself te verseker. Die handleiding en video’s is gratis beskikbaar op die webblad. ’n Maandelikse fooi, wat jou toegang tot die platform verseker, is wel betaalbaar.

Die APPfabriek is ’n eenvoudige, gebruikersvriendelike platform wat vir jou al die toerusting vir die skep van jou eie apps sal gee. Jy het GEEN kennis van programmering nodig nie. Hoewel die platform in Afrikaans is, kan jy jou app in enige taal en vir enige doel bou.

Om die projek te loods het Helpende Hand ’n kompetisie gehou wat aan voornemende APPreneurs die geleentheid gebied het om ’n app te bou wat dan beoordeel sou word om die prysgeld ter waarde van R100 000 in te palm. Honderde inskrywings is ontvang en die finale tien deelnemers gaan op 29 Oktober weet wie die top- APPreneur van 2015 is.

Die top tien is:

  • Tana Kruger – Tana Kruger Spraakterapie (Port Elizabeth)
  • Ronel Erasmus – Kamae Karate Klub (Pretoria)
  • Ryno Davel – Appteek (Pretoria)
  • Adri de Beer – Oppipad (Sasolburg)
  • Frik de Lange – Boer soek ’n gras (Pretoria)
  • Madeleine Greeff – Ezio Graad 2 Wiskunde (Pretoria)
  • Mauritz Stander – Namakwaland Blommeprag (Somerset-Wes)
  • Nico Steyn – Ons geskiedenis (Pretoria)
  • Melissa Troskie – Klein Bondeltjie, Groot liefde (Bloemfontein)
  • Hardus Vosloo – SA-Helde (Middelburg)

“Dit is die eerste projek van sy soort in Afrikaans,” sê Annette Taljaard, projekorganiseerder by Helpende Hand. “Ons het ’n wye verskeidenheid apps wat gebou word. Dit is ’n uitdaging vir oud en jonk.

Die wêreld is aan die verander en ons leef in ’n tyd waarin die gebruik van tegnologie die norm geword het. Volgens die Harvard Business Review kyk, soek, speel en snuffel die gemiddelde persoon nagenoeg 150 keer per dag op sy of haar slimfoon of tablet. Nagenoeg 80% van die tyd wat mense op hul selfone of tablette spandeer, is met die gebruik van ’n app.

Helpende Hand verstaan hierdie wêreld en weet dat dit ook talle uitdagings vir oud en jonk kan bied. Wie sou 20 jaar gelede kon raai dat die wêreld so sou verander? Juis daarom wil Helpende Hand help verseker dat veral kinders van jongs af entrepreneuriese en tegnologiese vaardighede kan aanleer. Met die regte toerusting in die hand sal hulle dan die toekoms suksesvol kan aanpak.

Die APPfabriek is ’n inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en vorm deel van die Solidariteit Beweging. Helpende Hand is ’n nasionale organisasie sonder winsbejag wat fokus op die voorkoming, verbreking en verligting van armoede. Vir meer inligting oor die APPfabriek besoek www.appfabriek.co.za, of kontak Annette Taljaard by 012 644 4390, of stuur ’n e-pos na [email protected].