BRIEF 136: ‘n Student se lig
Liewe Leser
In my 20's het ek baie selfondersoekende vrae gehad. Vrae soos: Waarom is ek hier? Wat kan ek doen om 'n verskil te maak? Wie wil ek vir ander wees en wat hou my terug? Soms was hierdie vrae oorweldigend en selfs 'n bietjie intimiderend, want dit vra van my om nie net te dink aan wat ek kan doen nie, maar ook wie ek is. Ek het nie altyd geweet wie ek is nie en ek was ook nie altyd seker wie ek wou word nie …
Om jou roeping te vind, beteken nie altyd dat jy dit onmiddellik in jou lewe sal herken nie. Soms kom die besef eers later, wanneer jy die lewensomstandighede, jou gawes en jou waardes beter verstaan. Soms is dit nie maklik om te sien waar jou roeping lê nie, maar dit is juis hier waar opleiding met 'n groter doel jou kan lei en jou vaardighede kan vorm om daardie roeping uit te leef.
Tydens die Opleidingsinstituut se sertifikaatplegtigheid in 2025 was daar iets wat ek in elke student opgemerk het: selfversekerdheid. Dis daardie soort sekerheid waar jy wéét jy is besig om jou roeping te volg en jy is gereed om diensbaar te wees. Dit was vir my duidelik dat hulle gereed en opgewonde was, want studente wat hierdie pad betree, doen baie meer as om net 'n kwalifikasie agter hul name te kry. Hulle kies om 'n lig in die wêreld te wees, selfs al is dit soms stil en ongesiens. Lig jou ken en ken jou lig, soos mense deesdae sê.
Om ander in hul huise te versorg, is 'n roeping wat diep uit die hart kom. Dit is nie altyd gemaklik of maklik nie, maar dit leer jou om met medelye te kyk, met vreugde te dien en met 'n hoër doel te leef. Tuisversorgers is nie altyd seker wat môre vir hulle inhou nie, maar hulle weet met sekerheid wat God van hulle verwag en dat hul deur diensbaarheid weer lig in mense se lewens kan bring.
Vriendelike groete
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5