BRIEF 137: Die lewe en sy dinge
Liewe Leser
Ek het onlangs 'n nota in my veldjoernaal gemaak van 'n plasing wat ek raakgelees het: "Soms gaan ons net deur dinge, omdat dinge dinge is …"
Soms voel die lewe 'n bietjie oorweldigend, nie omdat ons 'n katastrofe beleef het nie, maar omdat dinge net gebeur. Dis rekeninge, konflik tussen vriende, frustrasie op die pad, werk, en sommer net … dinge.
As iemand wat simboliek en rede agter elke ding probeer soek, moes ek eers 'n bietjie daaroor dink, want na my mening gebeur alles met 'n doel. Romeine 5 het dinge vir my 'n bietjie duideliker gemaak.
In Romeine 5:3-4 leer ons dat verdrukking ons leer om te volhard; volharding leer ons om betroubaar te wees; en betroubaarheid lei tot hoop. Selfs in ons swaarkry, kan ons die pad na hoop kan sien. Dit beteken nie dat ons genot uit ons moeilike omstandighede moet put nie, maar dat ons kan leer om dit te hanteer sonder om ons vrede te verloor.
Welstand beteken nie dat jy geen probleme sal hê nie, maar dat jy die vermoë sal hê om geestelik, emosioneel en fisies in balans te bly te midde van die lewe en sy dinge. Dit beteken ook om jou werk en roetine te sien as 'n manier om God te dien. Deur bewustelik te werk en jouself te versorg, kan jy 'n ritme vind waarin die alledaagse dinge nie net dinge bly nie, maar deel word van 'n groter proses van groei en volharding.
Ja, liewe Leser, dinge gebeur. Hoe ons kies om dit te hanteer, vorm ons. Deur God se genade kan selfs die eenvoudigste dag vol uitdagings 'n les wees in geduld, vreugde en innerlike rustigheid. Soms gaan ons net deur dinge omdat dinge dinge is, maar in Christus gaan ons nooit alleen deur daardie dinge nie.
Vriendelike groete
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5