BRIEF 138: Die lewe is kort

Liewe Leser

Ek het verlede jaar paaie gekruis met dié van 'n vriend in Graaff-Reinet. Sedertdien gesels ons as penmaats deur vir mekaar briewe te skryf. Uit sy briewe het dit vir my duidelik geword dat hy 'n Godvresende man is wat nie bang is om God se naam te verheerlik nie.

Uit al sy briewe is daar egter een wat my bybly:

Die lewe is verskriklik kort. Mense dink omdat die lewe kort is, gee dit ons al hoe meer rede om voluit vir onsself te leef. Ek glo egter dat die omgekeerde waar is. Die lewe is verskriklik kort; juis daarom het ons al hoe meer rede om vir God te leef en sy naam te verheerlik.

Ja, liewe Leser, die lewe is besig en verganklik. Ons tel die dae, werk deur die ure en probeer soms die wêreld se geleenthede met altwee hande aangryp. Daar is 'n algemene idee dat die kortheid van die lewe ons moet aanspoor om voluit vir onsself te leef, om ons eie begeertes en plesier bo alles te stel. Jy lewe mos net een keer, of hoe?

As ons 'n bietjie meer soos my vriend kan dink, sal ons besef in die kort tydjie wat ons hier op aarde het, moet ons die geleentheid benut om geduld te beoefen, liefde te gee, en dade van goedheid en getrouheid te doen – alles tot eer van God.

Ons het nie tyd om onnodig te worstel met nie-essensiële dinge nie. Elke dag, elke taak en elke interaksie met jou medemens kan 'n manier wees om God se lig te weerspieël en sy koninkryk te dien.

Die lewe is kort en jy leef net een keer, maar as jy reg leef, is een keer meer as genoeg.

Vriendelike groete

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5

BRIEF 138_Die lewe is kort.1