BRIEF 139: Daar is dankbaarheid in dié wat rou
Liewe Leser
Op die plaas is daar heelwat voëls. Die afgelope Desember het ons meer as 14 spesies in ons tuin gesien – kraaie, ooievaars, swaeltjies, suikerbekkies, kwiksterte, mossies en heelwat meer.
Elke voël het sy eie simboliek. Wanneer ek die kraaie en ooievaars sien, laat dit my altyd dink aan die kontras tussen die lewe en dood. Balans. Die generasies voor my het heelwat rou en verlies ervaar, onder andere kindersterftes. Daardie seer los jou nie.
Ek het altyd gedink dat rou en dankbaarheid teenpole van mekaar is, maar later besef dat dit in Christus nader aan mekaar is as wat ons dink. Wanneer ons rou, erken ons verlies, pyn en die broosheid van die lewe. Tog is dit juis in hierdie eerlike erkenning waar 'n diep, stille dankbaarheid begin wortelskiet. Dankbaarheid lê nie noodwendig in die verlies wat jy ervaar nie, maar eerder in die liefde wat daar was, die betekenis wat dit gedra het en God wat steeds in ons seer teenwoordig bly.
Jesus sê: "Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word." Nee, liewe Leser, ons hoef nie alles alleen te dra nie, want God se teenwoordigheid word nie deur pyn afgeskaf nie, maar juis daarin ervaar.
Op die plaas ervaar en sien ek dankbaarheid in baie dinge raak. Soos die mossies wat water drink, die suikerbekkies wat nektar in 'n blom vind en die swaeltjies wat weet dat hulle elke somer weer welkom sal wees.
Vriendelike groete
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5