BRIEF 140: DIENSBAARHEID BRING VRYHEID
Liewe Leser
In vandag se wêreld leer ons dikwels om ons eie behoeftes eerste te stel. Ons jaag na sukses, erkenning en sekuriteit of probeer bloot oorleef in 'n deurmekaar samelewing. Prestasie word maklik gelykgestel aan waarde, en ons voel belangrik wanneer ons dinge bereik. Vanuit 'n geloofsperspektief is dit egter duidelik dat God nie ons waarde meet aan wat ons verdien of bereik nie, maar aan ons bereidwilligheid om ander te dien.
Te midde van die eise wat die lewe aan ons stel, het ek geleer dat diensbaarheid nie altyd groot of opvallende dade beteken nie. Ons dink dikwels diensbaarheid lê in grootskaalse projekte, groot skenkings of sigbare invloed. Tog lê ware diensbaarheid dikwels in die klein, stil dingetjies wat min mense raaksien, maar wat 'n blywende impak maak. Dit is die hand wat uitreik, die tyd wat afgestaan word, die vermoë om sonder enige oordeel te luister. Ware diensbaarheid kom uit 'n hart wat gee sonder om iets terug te verwag, wat help omdat jy wil.
Diensbaarheid vra van ons om ons talente en tyd doelgerig te gebruik en om sensitief te wees vir die drukkende nood rondom ons, sodat ons uit liefde kan reageer om mekaar se leemtes te vul. Wanneer ons in die lig van diensbaarheid leef, kyk ons verby eie gemak, erkenning en selfs ons eie prestasies. Die maatstaf is nie hoeveel mense ons help of hoeveel roem ons kry nie, maar die nalatenskap van liefde, omgee en hoop.
Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werkers leef hierdie diensbaarheid daagliks uit deur met geduld en deernis waardigheid te herstel en hoop in die gemeenskappe terug te bring. Galasiërs 5:13 herinner ons daaraan dat ons mekaar in liefde moet dien. Ja, liewe Leser, dit is in hierdie leefwyse wat ware vryheid en geloof sigbaar word deur diensbaarheid wat God verheerlik en die wêreld om ons verlig.
Vriendelike groete
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5