BRIEF 142: Die diensbaarheid van ‘n maatskaplike werker
Liewe Leser
'n Vriend het een keer vir my gesê as jy hulp by die kerk nodig het, moet jy altyd eerste vir die besigste en mees betrokke kerk-tannie vra, want sy sal die vermoë hê om tyd vir jou te maak. Dis darem 'n besonderse gawe – om tyd te maak. In 'n wêreld waar almal jaag en min luister, is tyd een van die kosbaarste gawes wat ons vir mekaar kan gee. Dis ook 'n stille weerspieëling van Christus se liefde: altyd beskikbaar, altyd teenwoordig.
Diensbaarheid vra van ons om uit te reik en ander se laste te dra, selfs wanneer dit ongerieflik of moeilik is. Maatskaplike werkers beliggaam hierdie soort diensbaarheid elke dag. By Solidariteit Helpende Hand het ek gesien dat maatskaplike werk veel meer as net 'n beroep is. Dit is 'n lewensuitdrukking van medemenslikheid en gehoorsaamheid aan God se roeping om lig te bring waar daar donkerte heers.
In 'n wêreld wat dikwels sukses, prestasie en selfbehoud vooropstel, is maatskaplike werkers stille getuies van elke mens se Godgegewe waarde. Hulle sien die mens agter die statistiek, die gesin agter die krisis, die hart agter die seer raak. Terwyl ons besigwees dikwels met produktiwiteit en sigbare resultate vereenselwig, weet maatskaplike werkers dat ware impak nie in getalle lê nie, maar in lewens wat herstel word en hoop wat weer begin vlam vat. Want sien, liewe Leser, diensbaarheid word nie gemeet aan invloed of erkenning nie, maar aan die diepte van die verskil wat dit in ander se lewens maak.
Die werk van maatskaplike werkers verg wysheid, geduld en deernis, eienskappe wat ook vrug van die Gees is. Dit vra om sonder oordeel te luister, met genade te handel en aan te hou dien, selfs wanneer daar min erkenning is. In hul stille, volgehoue diens weerspieël hulle iets van Christus se liefde, 'n liefde wat dra, dien en nooit moeg word om goed te doen nie.
Vriendelike groete
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5