BRIEF 143: JOU NAAM

Liewe Leser

'n Ou grappie wat nou nog in my vriendekringe voortleef, is dat ek op 'n stadium gedink het dat die naam "Anoniem" is direk aan een persoon gekoppel en dat dié persoon, na my beskeie mening, boonop nog wys ook is. Ek het later eers besef dat "anoniem" 'n sinoniem vir "onbekend" is. Lag maar lekker saam, so leer ons almal.

Wanneer ek na die woord "anoniem" kyk, wonder ek soms hoeveel mense dié naam vir hul skryfwerk en wyshede gekry het. Amper asof iemand hul name vergeet het, maar die wysheid het agtergebly. Party dae voel ek ook anoniem, en miskien voel jy ook soms so, liewe Leser …

Daar is dae wanneer die lewe swaar voel. Wanneer jy in stilte huil, of selfs net stilstaan en wonder of iemand jou werklik raaksien en onthou. Soms kan jy dié eensaamheid nie beskryf nie, want selfs al sit jy tussen mense wat jou lief het, sink dit net nie in nie. Ek het onlangs 'n inskrywing in my veldjoernaal gemaak wat jou ook miskien kan help: "God sal jou nie vergeet nie." Dis 'n gedagte wat my sterk hou en krag gee vir onsekere tye, sodat ek kans sien vir die lewe selfs al voel ek alleen.

In Jesaja 49:15-16 staan daar dat God ons name in die palm van sy hande geskryf het. Stel jou dit voor, liewe Leser, dat die Een wat die sterre kan tel en die seisoene bestuur, jou naam in sy hande vashou én onthou. Elke traan, elke gebed en innerlike worsteling word deur Hom gedra.

Selfs al voel ons soms dat mense ons vergeet, beteken dit nie dat jy vergete is nie. God werk dikwels in stilte en op sy tyd gebeur dinge wat ons nie altyd kan verstaan nie. Jou naam is nie net nog 'n woord nie; dis neergeskryf en bevestig dat jy gesien word en geliefd is. Wanneer die wêreld jou laat voel dat jy net nog 'n anoniem is, bly jy in God se oë onvervangbaar. Hy weet van jou en onthou jou. In Jesaja 43:1-7 [AFR20] bevestig Hy dit weer: "… moenie bang wees nie, want Ek het jou losgekoop, Ek het jou op jou naam geroep – aan My behoort jy."

 

Vriendelike groete

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5

BRIEF 143_Jou naam