Brief 146: Diensbaarheid is nie ‘n transaksie nie

Liewe Leser

Ek het Job al 'n paar keer deurgelees. In vergelyking met ander Bybelse boeke is dit nie 'n baie lang verhaal nie, maar die lesse wat ons daaruit kan leer, kan ons beslis toepas. In 'n neutedop kan ons Job se storie in drie sinne opsom: Job ly. Job is getrou. God voorsien.

In hierdie bekende raamwerk lê daar 'n ongemaklike waarheid wat ons graag vermy. Ware diensbaarheid lê nie net in die mooi, stille, voorbeeldige oomblikke nie. Dis dikwels ook eerlik en rou tot op die been. En soms maak dit glad nie sin nie.

Job se lewe laat my dink aan 'n vraag wat een van my mentors my gevra het: As alles wat jou geloof gedra het wegval, sal jy nog bereid wees om die Here te dien? Die maklike antwoord is "ja". Dis maklik, want alles wat my geloof gedra het, is nog nie weggeneem nie. Die toets kom wanneer jy alles verloor. Job het God gedien toe hy alles gehad het. Dit was vir hom maklik. Die ongemaklikheid lê in Job se keuse om God aan te hou dien, selfs toe hy niks oorgehad het om op terug te val nie.

Job het geweier om God net te dien in die tye toe dit gemaklik was. Hy het ook nie teruggehou deur stil te bly nie. Soms het hy selfs gekla en vrae gevra. Ten spyte daarvan het hy mét God gepraat eerder as om óór God te praat. Dit alleen sê iets radikaals oor diensbaarheid. Diensbaarheid beteken nie om jou pyn weg te steek nie. Dit kan ook wys wanneer jy al jou bekommernisse voor God lê.

Job wys vir ons dat daar soms in 'n rou gesprek vol frustrasie en onsekerheid ook geloof kan wees en dat daardie eerlikheid nie deur God verwerp word nie. Teen die einde van die boek ontvang Job meer as wat hy verloor het. Job se krag van lê nie in sy uiteindelike seën nie, maar in sy volgehoue getrouheid voordat God voorsien het. Sy diensbaarheid was nie afhanklik van die uitkoms nie. Miskien is dit waarom die boek Job ons steeds laat dink. Dit dwing ons om eerlik te wees oor ons eie motiewe. Dien ons God omdat Hy goed is of omdat dit vir ons ten goede gaan uitwerk?

Job se verhaal laat my met hierdie gedagte: Diensbaarheid is nie 'n belofte dat alles reg sal uitwerk nie. Dit is 'n keuse om God getrou te bly dien, selfs al maak die lewe nie altyd sin nie.

Vriendelike groete

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand

BRIEF 146_Diensbaarheid is nie ‘n transaksie nie_9878