BRIEF 147: Volhoubare Diensbaarheid

Liewe Leser

Daar is tye in die lewe wanneer jy voel dat die wêreld toets of jou skouers die las kan dra. Soms wissel dit tussen verantwoordelikhede by die werk en die huis, in ander gevalle lê dit in die verwagtinge van jou gemeenskap, jou familie en jou vriende. In unieke gevalle is dit sommer alles, omdat jy nie jou "nee" gebruik het nie.

Ek het al geleer wanneer jy jou eie hart, liggaam en gees voed, skep jy ruimte om met oorgawe te gee. As jy jou eie beker vul, sal dit oorloop in die lewens van die mense om jou. Om balans te vind, beteken nie dat jy alles perfek moet doen nie. Dit beteken om jou eie behoeftes te ken en te weet dat jou tyd, energie en emosies kosbaar is.

Diensbaarheid sonder selfversorging kan baie maklik lyk soos die flouerige vlam van 'n olielamp sonder olie. Matteus 25:1–13 vertel mooi hoe vyf vroue voorbereid en gereed met hul olielampe gestaan en wag het vir die bruidegom. Vyf ander vroue was onvoorbereid en het nie daaraan gedink om hul lampe te vul nie, daarom het hulle die aankoms van die Bruidegom en die bruilof misgeloop.

Hierdie verhaal herinner ons dat voorbereiding, voorsiening en die koestering van ons eie lig nie net wys is nie maar noodsaaklik. Net soos die wyse vroue ons leer om vooruit te dink, moet ons selfversorging nie uitstel nie, want dit is die fondament wat nodig is sodat ons ander kan dien. As jy na jouself kyk, kan jy na ander mense ook kyk.

Wanneer ons ons innerlike olie koester deur spaarsamig met ons energie en tyd te werk, kan ons ander dien sonder dat dit ons uitput of uitbrand. As ons genoeg olie het, kan ons ander dien en lig in donker tye bring sonder om leeg te loop. Om jou eie lamp te vul, is nie selfsugtig nie, dit is verantwoordelik. Dis die sleutel tot volhoubare diensbaarheid sodat jy lig vir ander mense kan wees sonder om jouself te verloor.

Vriendelike groete

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5

BRIEF 147_Volhoubare Diensbaarheid