BRIEF 148:  Volharding verseker ‘n vol hart

Liewe Leser

Daar was al oomblikke in my lewe wat ek aan God erken het dat Hy vir my te ver voel, want om dit aan Hom te erken, was my manier om te sê dat ek nie besig was om reg te leef nie. Die afstand tussen my en God is nie deur God gemaak nie, maar deur my keuses.

Soms voel dit of gebede soos woorde sonder weerklank klink en hoop net stadig beweeg. Dis egter juis in hierdie oomblikke dat daar iets diep in ons besig is om te vorm, want dit leer ons om op God se tyd staat te maak en aan sy liefde en getrouheid vas te klou. Deur te erken dat God soms te ver voel, gee ons 'n tree vorentoe om nader aan Hom te leef en weer in geloof te volhard.

Volharding is nie die afwesigheid van moegheid nie, maar die bereidwilligheid om getrou te bly te midde daarvan. Dit is die doelbewuste besluit om nie tou op te gooi wanneer die las te swaar voel nie. Volharding werk op stil maniere. Dit leer ons om sonder onmiddellike beloning te vertrou en om aan geloof vas te klou. Want sien, liewe Leser, volharding maak jou hart vol. 'n Vol hart beteken nie 'n lewe sonder seer nie. Dit beteken dat jou hart geleer het om ruimte te maak vir beide pyn en vervulling. Volharding verbreed die hart sodat dit meer kan dra en dieper kan liefhê. Dit leer ons dat God se werk nie altyd haastig is nie, maar wel altyd doelgerig en getrou, want selfs al los jy God se hand, los Hy nooit joune nie.

Uiteindelik is 'n vol hart nie die gevolg van volmaakte omstandighede nie, maar van 'n lewe wat volhardend aan God se getrouheid vasklou. In daardie aanhou en bly glo ontdek ons 'n diep, blywende volheid wat nie deur storms gesteel kan word nie en waar geen afstand tussen jou en God te ver voel nie.

Vriendelike groete

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5

BRIEF 148_Volharding bring 'n vol hart