BRIEF 150: Die liefde van ‘n ma
Liewe Moeder
Die Bybel sê dat 'n vrou wat die Here dien, geprys moet word … As ek na Ma se lewe so staan en kyk, verstaan ek wat dié vers vir ons sê. Ma het nie net vir my geleer hoe om te leef nie, maar ook om te glo en al my vertroue in Hom te plaas. Ma het nie net vir my geleer om nie net te praat nie, maar om Geesbewus te wees en aan te hou bid. Al het ek dit nie altyd besef nie, het daardie geloof 'n vaste fondament in my lewe geword. Dis die liefde van 'n Ma.
Dankie, Ma.
Dankie dat Ma my altyd terug na God toe gewys het, want volgens Ma weet Ma nie alles nie, maar God weet wél. Ma se lewe is 'n getuienis wat my geleer het wanneer 'n mens val, sal die Here jou altyd vang en dra.
Mag die Here Ma in oorvloed seën vir elke traan wat Ma stil agter toe deure gehuil het, vir elke skietgebed wat Ma moes fluister en vir elke keer wat Ma eerste aan ander gedink het.
Ma is vir my meer as net 'n moeder.
Ma is 'n geskenk wat deur God gestuur is en 'n bewys van sy liefde.
Gelukkige Moedersdag.
Vriendelike groete
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5
