BRIEF 151: Haar brug is gebou
#LieweLeser
Ek het onlangs die voorreg gehad om 'n ma en haar kind se storie te hoor. Dit is die soort storie wat nie net gehoor word nie, maar in jou hart kom lĂȘ en jou lank daarna nog laat nadink.
Die ma het teruggedelf na haar kind se kleuterskooljare en die pad saam met haar gevolg deur laerskool, hoĂ«rskool en nou uiteindelik na haar studies. Sy het oop en eerlik vertel van die dae wat swaar op 'n mens se siel druk, maar ook die goeie dae wat hulle ervaar het. Sy het vertel van oggende toe sy aan haar kinders moes erken dat daar nie kos in die huis is nie; dae toe hulle sowat sewe kilometer skool toe moes stap en die oomblikke toe sy vir haar dogter moes sĂȘ dat sy nie haar studies kan bekostig nie. Dit het vir my baie gou duidelik geword dat hierdie ma en dogter nie net moeilike omstandighede beleef het nie, maar dat hulle dit tree vir tree en dag vir dag oorleef het.
Ten spyte van die swaar dae was daar ook genade. Sy vertel van die dag toe 'n donateur aangebied het om haar kind te help: eers deur die kleuterskool, toe deur die laerskool en hoërskool, en uiteindelik om verdere studies moontlik te maak. So is haar brug na 'n toekoms tree vir tree gebou.
Dit was vir my veral mooi om te hoor dat die kind, soos wat sy leer skryf het, ook dankie-briewe geskryf het vir die donateur wat sy nooit ontmoet het nie, maar wat 'n onmiskenbare deel van haar storie geword het. Want sien, liewe Leser, die donateur het die boustene gegee, maar die ma en die kind moes self die brug bou. Met elke moeilike dag, elke opoffering, elke tree vorentoe het die brug vorm gekry totdat dit vandag as 'n brug van hoop, geloof en deursettingsvermoë gesien word.
God werk dikwels deur mense. Hy voorsien nie altyd op die manier wat ons verwag nie, maar Hy voorsien. Soms stuur Hy iemand om 'n hand uit te reik of 'n steen aan te dra, maar Hy gee ook vir ons die krag, die moed en die verantwoordelikheid om verder te bou. Solidariteit Helpende Hand se Brugfonds maak dit moontlik om kinders te ondersteun wat andersins nie toegang sou hĂȘ tot noodsaaklike hulp nie. Die Bemagtig 'n Kind-projek is 'n gesamentlike inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en Maroela Media wat daarop gemik is om hoop te bring waar daar nood is. DiĂ© projek bied doelgerigte ondersteuning, soos terapie, ekstra klasse en vervoer, aan kinders wat in uitdagende omstandighede grootword.
Met hande wat uitreik, harte wat glo en God wat stilweg die fondasie lĂȘ, is dit dalk die mooiste deel hiervan: dat die brĂ»e wat gebou word nie net een lewe verander nie, maar geslagte daarna nog kan vrugte dra.
Vriendelike groete,
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Brugfonds.co.za
