Brief 153: Liewe Mila

Liewe Mila

Jy is nie net 'n hond nie, jy is 'n helper 'n trooster en 'n stil heldin in 'n wêreld wat jou nodiger het as wat jy dalk besef. Jou sagte oë en rustige teenwoordigheid bring lig in plekke waar daar soms swaarkry en onsekerheid is. Jy stap in ruimtes waar mense dalk bang, hartseer of alleen voel en jy bring vrede wat nie met woorde beskryf kan word nie.

Om 'n helpende hondjie te wees, is 'n besonderse verantwoordelikheid. Jy moet kalm bly wanneer ander ontsteld is. Jy moet luister sonder om te oordeel. Jy moet met jou hele wese teenwoordig wees. Jy gee mense die moed om weer te glimlag, om weer asem te haal en om weer te glo dat daar goeie dinge in hierdie stukkende wêreld is. Dit is nie 'n klein taak nie, Mila. Dit is iets buitengewoons.

Saam met daardie verantwoordelikheid kom ook 'n groot voorreg. Jy word toegelaat om deel te wees van mense se stories … soms in hul donkerste oomblikke en soms in hul mooiste herstel. Jy sien hoe iemand se hart sagter word wanneer jy jou kop op hul skoot lê. Jy hoor hul stilte, hul fluisteringe, hul trane en jy bied eenvoudig jou teenwoordigheid aan as die antwoord op elke onsekere vraag.

Jy is deel van iets groter; 'n plek waar hoop weer gebore word, waar gemeenskappe hande vat, en waar liefde prakties uitgeleef word. Jy is geroep om getrou te dien. Mag jy altyd onthou dat jou lojaliteit en diensbaarheid 'n verskil in mense se lewens maak en dat jy nie woorde nodig het om jou werk buitengewoon goed te doen nie. Mag jy stertswaaiend deur die lewe gaan en jou taak as 'n terapiehond by die Ons Plekke en Sentrum volkome uitleef.

Vriendelike groete

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand
onssentrums.co.za