BRIEF 154: Skep jou hoop op
#LieweLeser
Ek onthou tot vandag nog die moeite wat my kleuterskool vir ons tydens middagete gedoen het. Elke tafeltjie was netjies gedek met plastiekbordjies waarop ons ons kosblikkies kon uitpak en soos regte grootmense saam met ons maatjies kon sit en eet. Middagete op sigself was 'n les, want dis waar ons tafelmaniere moes leer. In die middel van die tafel was daar 'n ekstra bordjie. Indien van ons nie ons kos wou eet nie, kon ons dit op die bordjie in die middel van die tafel plaas sodat iemand anders dit kon eet eerder as om dit te vermors.
Danksy goeie opvoeding het ek vinnig geleer dat daar iets verhewe en terselfdertyd opreg menslik is aan die eenvoudige daad om kos te deel. In 'n wêreld waar baie mense worstel om die basiese behoeftes van die lewe te bekostig, word 'n klein kosblikkie meer as net 'n maaltyd – dit word 'n boodskap van hoop, 'n stil besef dat daar iemand is wat omgee en dat niemand alleen hoef te staan nie.
In my skoolloopbaan het ek vinnig besef dat baie leerlinge sonder genoeg kos skool toe gaan. Dit beïnvloed nie net hul liggaam nie, maar ook hul vermoë om te leer, te fokus en te droom. Wanneer 'n kind honger is, word die wêreld klein. Maar wanneer 'n kosblikkie aan daardie kind gegee word, verbreed die wêreld se horisonne.
In baie opsigte roep Solidariteit Helpende Hand se Kosblikkie-projek elkeen van ons tot selfondersoek. Wat beteken dit vir my om my geloof prakties uit te leef en hoe kan ek vir iemand anders hoop skep? Die antwoord lê nie altyd in groot planne nie, maar eerder in klein, getroue aksies wat dag na dag herhaal word.
Die Kosblikkie-projek herinner ons ook daaraan dat hoop aansteeklik is. Wanneer een persoon begin gee, inspireer dit ander om dieselfde te doen. 'n Gemeenskap begin vorm kry en 'n kultuur van gee en omgee begin groei.
Om hoop te skep is nie net 'n leuse nie, maar 'n lewenswyse. Dit is 'n besluit om nie onverskillig te staan nie maar te kies om raak te sien waar daar nood is en om iets daaromtrent te doen.
Mag ons nie net mense wees wat hoop ontvang nie, maar mense wat hoop skep deur ander te voed. Mag ons met die eenvoudigste gebare 'n wêreld help bou waar hoop nie net bestaan nie, maar oorvloedig gedeel en vermenigvuldig word.
Vriendelike groete
Hilde Kruger