BRIEF 155: Dra dit in jou tas

#LieweLeser

Ek onthou dat my eerste skooldag nie net opwindend was nie, maar ook oorweldigend. Dit was 'n groot wêreld vol nuwe gesigte, reëls en onbekende verwagtinge. My ouers het seker gemaak dat ek goed voorbereid was en dat my skooltas alles ingehad het wat ek sou nodig hê. In daardie oomblikke speel iets so eenvoudig soos 'n tassie 'n veel groter rol as wat ons besef. Dit word 'n simbool van gereedheid, die sekerheid dat jy in die klaskamer hoort, dat jy deel is van die klas, dat jy nie agter is nog voordat jy begin het nie.

Wat ons sien, is net die sigbare inhoud van die tassie, soos boeke, potlode, gom en skêre. Maar 'n tas dra ook selfwaarde, die stille wete dat jy saak maak, hoop, en die wete dat jou storie nog nie klaar geskryf is nie. Dit dra die moed om te begin en vir die onsekerhede kans te sien, al voel jy onseker. Ja, liewe leser, dis die inhoud wat 'n kind se pad vorm gee.

As ons mooi daaroor dink, dra ons elkeen 'n tas. Ons dra herinneringe wat nog seermaak, woorde wat nooit gesê is nie, drome wat uitgestel is en vrese wat stilweg groei. Hierdie tassies gaan saam werk toe, huis toe en ons dra dit selfs in ons verhoudings in. Mettertyd raak dit deel van hoe ons onsself sien en kan dit so swaar raak dat ons vergeet hoe dit voel om sonder daardie gewig te leef.

Dit is waarom die krag van Solidariteit Helpende Hand se Tassie-projek verder strek as wat ons dink. Dit herinner ons daaraan dat niemand gemaak is om hul laste alleen te dra nie. Net soos daardie kind 'n tassie ontvang wat sy las ligter maak en sy hart voller, het elkeen van ons mense nodig wat ons help dra, wat help pak en soms help uitpak.

Mettertyd sal die tassie wat jy dra jou begin dra. Soos daardie kind wat met nuwe selfvertroue die klas instap en weer in moontlikhede begin glo.

Wat is in jou tas, liewe Leser? En wie se tas kan jy help pak? Want iewers daar buite is iemand wat wag vir daardie een gebaar en daardie een oomblik van omgee wat hul hele lewensreis kan verander.

Vriendelike groete

Hilde Kruger

https://helpendehand.co.za/skenk-n-tassie/