BRIEF 157: Die Wipplank
#LieweLeser
Ek het onlangs saam met my ouers verby 'n parkie gestap en 'n wipplank raakgesien. Dit het my dadelik na my kinderdae teruggevat. 'n Wipplank het mense bymekaar gebring. Dit het jou gedwing om iemand te vra om vir 'n oomblik saam met jou te sit en die lewe net sorgeloos te geniet.
Vir ons grootmense kan 'n wipplank so baie dinge leer. Daar is dae wat die lewe lig voel. Alles werk uit. Jy lag maklik, slaap rustig en voel asof jy die wêreld kan aanpak. Dan is daar weer onsekere dae wat swaar druk en 'n bietjie meer krag van jou verg. Ja, liewe Leser, só werk die lewe: op en af, hoogtes en laagtes, vreugde en pyn. Die waarheid is: Niemand bly permanent bo nie, en niemand bly vir altyd onder nie. Alles is tydelik.
Prediker 3 herinner ons dat daar 'n tyd is vir alles. God het nooit belowe dat die lewe altyd maklik sal wees nie, maar Hy het belowe dat Hy saam met ons deur elke seisoen sal stap.
Dis juis in daardie af-oomblikke wat ons geloof dikwels die sterkste groei. Wanneer die wipplank skielik onder ons uitsak, leer ons om aan God vas te klou eerder as om op ons eie insig staat te maak.
Party mense beleef tans 'n hoogtepunt: nuwe geleenthede, liefde, herstel of sukses. Ander sit dalk vandag stil aan die onderkant van die wipplank en wonder wanneer dinge weer sal verander. God sien jou in altwee oomblikke raak.
Miskien is die geheim van die lewe nie om die wipplank te stop nie, maar om balans te vind te midde van die beweging. Om dankbaar te bly wanneer jy bo is, en hoopvol te bly wanneer jy onder is.
Mettertyd besef ons dat die spilpunt van die lewe om God draai.
Vriendelike groete
Hilde Kruger
Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5