BRIEF 159: Rus
#LieweLeser
Ek sukkel soms om af te skakel. Met die stad se gejaag kan rus selfs vir ons vreemd lyk. Op die plaas lyk dit weer vir my anders, want as die reën toesak, kruip die natuur weg. Elke swaeltjie in hul nes, elke bees onder 'n boom of in 'n stal – selfs die grond kan asemhaal.
Ek het op 'n paar harde maniere geleer dat God ons nie gemaak het om uitgeput te leef nie, maar eerder gebalanseerd. Van die begin af sien ons hoe rus deel van God se ontwerp is, want selfs Hy het op die sewende dag gerus. God het geskep en dit was goed. God het gerus en dit was ook goed.
Soms verwar ons rus met luiheid en vergeet ons dat dit 'n opdrag is. Rus verg gehoorsaamheid. Dis nie 'n onderbreking van jou roeping nie. Dit is deel daarvan, want 'n uitgeputte hart kan maklik van koers af dwaal, maar 'n versterkte hart kan weer met helderheid en krag dien.
Rus, sodat jy kan werk.
Nie uit jou eie krag nie, maar uit die krag wat God jou gee.
Vriendelike groete
Hilde Kruger
Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5