BRIEF 160: Jou gawes het waarde

#LieweLeser

Ek het 'n jong vriend wat baie ure aan sy werk toewy. Sy werksdag begin net voor sonop en eindig eers weer laataand. Hy kla nie en noem net soms dat hy moeg is … moeg, maar gelukkig. Dit was vir my baie gou duidelik dat hy lief is vir dit wat hy doen.

Die impak van 'n gawe het 'n vreemde manier om van een mens na 'n ander te vloei. Jy sien dit in die manier waarop iemand praat oor hul werk, hoe hulle iets skep, of hoe hulle sonder moeite ander mense laat goed voel.

In my studentejare het ek gedink dat 'n mens eers suksesvol moet wees voordat jy 'n verskil kan maak, maar eintlik is die vermoë om 'n verskil te maak baie eenvoudiger as wat 'n mens dink. Wanneer jy iets doen waarvoor jy werklik lief is, raak dit reeds mense aan op maniere wat jy nie altyd kan meet of beplan nie.

Iemand wat lief is vir skryf, kan 'n stukkie hoop gee vir iemand wat alleen voel – baie soos briewe. Iemand wat jag, kan 'n bok vir honger kinders skenk. Iemand wat studeer het, kan 'n skooltassie vir 'n graadeen koop. Iemand wat van tuinmaak hou, kan 'n groentetuin begin, en iemand wat graag luister, kan ander laat voel dat hulle raakgesien én gehoor word.

Ons leef in 'n wêreld waar baie mense moeg en oorweldig is. Ons vergeet soms van ons gawes en die impak wat dit op ander kan hê as ons dit reg benut. Jou gawe hoef nie volledig verfyn of kommersieel suksesvol te wees voordat dit waarde het nie. Dit begin reeds werk die oomblik wat jy dit met eerlikheid uitleef.

Wanneer 'n mens terugkyk op die lewe, is dit selde net die groot prestasies wat jy onthou. Dit is die oomblikke toe iemand jou laat voel het dat jy raakgesien word, verstaan word of geïnspireer is om aan te hou. Jou gawe het die vermoë om daardie soort oomblikke vir ander te skep.

Jy kan mense help deur te doen waarvoor jy lief is, want in Kolossense 3:23-24 staan daar dat wat ons ook al doen, ons dit van harte vir die Here moet doen en nie vir mense nie. Jou gawe is nie net vir jou gegee om dit te geniet nie, maar ook om te gee en 'n volhoubare verskil te maak. Dis 'n opdrag, roeping en geskenk. Niemand kan dit van jou af wegvat nie, omdat dit onlosmaaklik deel van jou is.

Vriendelike groete

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand

Projekte

BRIEF_160_Jou_gawes_het_waarde_copy