BRIEF 161: Die buurman wat nooit gekla het nie

#LieweLeser

Daar trek toe dié week 'n ou oom uit ons straat uit. My buurman. Dis nie iemand wat groot geraas gemaak het nie en ook nie iemand wat bekend was vir indrukwekkende motors of luukse kuiers nie. Net 'n eenvoudige, bejaarde man wat stadig gestap het, altyd netjies aangetrek was en die gewoonte gehad het om my elke dag op dieselfde vriendelike manier te groet.

Soms het hy my letterlik in my spore laat stilstaan. Hy wou eers hoor hoe dit gaan en wanneer laas ek vir my ouers gaan kuier het. As ek vir hom gevra het hoe dit met hom gaan, was sy antwoord altyd: "Nee, wat. Ek mag nie kla nie."

Dieselfde antwoord vir drie jaar lank. Dit was drie jaar van verbyry, verbyloop, vinnige geselsies oor die weer, die lewe en die wêreld. Drie jaar waarin ek hom nooit hoor kla het nie.

Nie oor pyn nie.
Nie oor ouderdom nie.
Nie oor die land nie.
Nie oor swaarkry nie.

Sy woord was wet. Hy mag nie kla nie.

Dis eers toe hy met die sleepwaentjie wegtrek wat ek besef het hoe 'n groot rol die goeie buurman eintlik gespeel het. Nie noodwendig met groot dade nie, maar met klein, getroue bewyse van menslikheid.

Ons leef in 'n tyd waar mense soms jare langs mekaar woon sonder om eers mekaar se name te ken. Motorhuise gaan oop en toe. Hekke bly gesluit. Ons raak bure van adresse, maar nie van harte nie.

Goeie bure kan jou welstand bevorder deur jou te herinner dat jy nie alleen leef nie. Die ou oom het waarskynlik nooit besef hoeveel sy eenvoudige woorde beteken het nie. Maar daardie "Ek mag nie kla nie" het mettertyd amper soos wysheid begin klink.

Ek kan nie help om te wonder hoeveel beter ons dorpe, strate en woonbuurte sou wees as meer mense weer regtig bure vir mekaar word nie, want op die ou end onthou mens nie altyd wat jou bure besit het nie, maar hoe hulle jou laat voel het.

Vriendelike groete

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5

BRIEF_161_Die_buurman_wat_nooit_gekla_het_nie_5301